Nuus 12:00
BULLETIN 12 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# My Vote Counts sê die voorgestelde wysigings aan die partybefondsingswet is opportunisties
# ‘n OVK-amptenaar word afgedank oor die uitlek van die ANC en MK se kandidatelyste
# En, tennis: Novak Djokovic word uitgeskakel by die Indian Wells-ope
# My Vote Counts sê die voorgestelde wysigings aan die Wysigingswetswerp oor Verkiesingsaangeleentede is opportunisties en ongrondwetlik. Die ANC gaan vandag sy getalle-oorwig gebruik om die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering goed te keur. Die wetgewing verander op omstrede wyse die manier oor hoe politieke partye en onafhanklike kandidate toedelings uit die staatskas ontvang. My Vote Counts sê verskeie van die wysigings oor befondsing van politieke partye strek baie wyer as die bestek van wat nodig is om aan die vereistes van die gewysigde Verkiesingswet te voldoen.
Intussen het die Onafhanklike Verkiesingskommissie ‘n amptenaar afgedank wat die ANC en uMkhonto we Sizwe se kandidatelyste laat uitlek het. Die twee lyste is verlede week op sosiale media gesirkuleer, slegs ure nadat die partye dit ingedien het. Die OVK sê sy voorlopige ondersoek toon die dokumente is van ‘n rekenaar by sy hoofkwartier geskep voor dit gewis is. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo sê die amptenaar het ‘n voorlegging gedoen oor hoekom sy nie afgedank moet word nie, maar is toe op grond daarvan in die pad gesteek.
# Mango se sakereddingspraktisyn, Sipho Sono, beskou die politieke uittrede van die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, as ‘n geleentheid vir vordering. Hy sê Gordhan se teenkanting teen die verkoop van die filiaal van die Suid-Afrikaanse Lugdiens kan verdwyn en moontlik die sukkelende lugredery se herlewing aanhelp. Regskwessies is steeds daar, met ‘n dringende hofaansoek wat hangende is. Ondanks die vertragings is Sono van mening Mango se verkoop is deurslaggewend vir sy reddingsplan en bied hoop vir werknemers wat afgedank is en wag op moontlike heraanstelling.
# Die vakbond Nehawu se staking by die Universiteit van Pretoria is beëindig nadat die twee partye ‘n ooreenkoms bereik het. Die werkers het die 15de van verlede maand begin staak om ʼn salarisverhoging bo inflasie en ander voordele te eis. Die universiteit se woordvoerder, Rikus Delport, sê werkers het ʼn verhoging van 5,1-persent en ʼn eenmalige betaling van een-duisend-200-rand vir vanjaar aanvaar:
# Tennis: Die kwalifiseerder Luca Nardi het die wêreld nommer een, Novak Djokovic, in die derde ronde van die Indian Wells-ope uitgeskakel. Die 20-jarige Italianer, wat nommer 123 in die wêreld is, het die Serwiër 6-4, 3-6, 6-3 uitgestof in die grootste oorwinning van sy loopbaan. Hy is die laagste geplaaste speler nóg wat Djokovic verslaan in ‘n ATP Meesters Een-duisend- of ‘n Grand Slam-toernooi. Nardi sê hy is geïnspireer deur die onlangse welslae van sy landgenoot, Jannik Sinner:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-779-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-176-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….