Nuus 12:00
BULLETIN 11 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die vennootskap tussen die regering en die sakesektor is belangrik
# ‘n Nuwe Brenthurst-opname wys die MK Party kan dalk beter vaar as die EFF
# En, tennis: Alcaraz, Sinner en Tsitsipas is deur na die vierde ronde van Indian Wells
# President Cyril Ramaphosa sê die regering streef daarna om sy vennootskap met sake-ondernemings te versterk. Die samewerkingsooreenkoms is in Junie verlede jaar tot stand gebring om die elektrisiteitsvoorsieningskrisis, die ernstige uitdagings in vragspoor- en hawebedrywighede, en misdaad en korrupsie te beveg. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die private sektor het sedertdien meer as 170-miljoen-rand se regstreekse steun bygedra en meer as 350 tegniese kundiges ontplooi. Oor die volgende paar maande sal die fokus wees op die verhoging van kragopwekkings-vermoë en om Transnet te help om sy interne vermoë te herbou.
# Dit wil voorkom of die ANC se steun steeds tuimel, en teen 39-persent op die oomblik, lyk ‘n koalisieregering meer waarskynlik. Die jongste syfers volgens ‘n nuwe nasionale opname deur die Brenthurst-stigting, toon steun vir die DA het op nasionale vlak tot 27-persent gestyg. Die MK Party is op 13-persent, en die EFF is tans op tien-persent. In Gauteng is die Veelpartyhandves se steun 38-persent, terwyl die ANC se steun op 34-persent lê. In KwaZulu-Natal sal MK volgens aanduidings die grootste party wees, met 25-persent van die stemme, terwyl die ANC tans 20-persent steun geniet.
# Die Gautengse Verkeersdepartement sê hy en ander wetstoepassingsagentskappe sal geen steen onaangeroer laat om die moordenaars van Clearance Tlou Kgomo op te spoor nie. Die 44-jarige provinsiale inspekteur is Vrydagaand in Pretoria-Wes doodgeskiet en van sy dienspistool beroof. Die departement se woordvoerder, Sello Maremane, sê Kgomo is naby die Saulsville-hostel deur onbekende aanvallers vermoor:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die vierde ronde van die Indian Wells-ope. Die Spanjaard het die Kanadees Felix Auger-Aliassime 6-2, 6-3 verslaan om sy wenlopie in die Amerikaanse toernooi tot agt wedstryde te verleng. Die derde gekeurde Jannik Sinner van Italië het Jan-Lennard Struff van Duitsland 6-3, 6-4 geklop om tot die ronde van 16 deur te dring, terwyl die elfde-gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland die Amerikaner Frances Tiafoe in skoon stelle verslaan het. Alcaraz sê hy is op die oomblik regtig gelukkig met sy spelpeil:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-en-25-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-181-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-10-sent per vat.
# En, die vierde jaarlikse Geestesgesondheid van die Wêreld-verslag het Suid-Afrika weereens onder die laaste drie lande wêreldwyd geplaas wat geestesgesondheid betref. Die Domenikaanse Republiek, Sri Lanka en Tanzanië is bo-aan die lys, terwyl Brasilië, Suid-Afrika, Brittanje en Oezbekistan laaste is. Die leierwetenskaplike van Sapien Labs, Jennifer Newson, lig ‘n volgehoue neiging uit van verminderde geestesgesondheid, veral met die gebruik van slimfone. Newson beklemtoon die behoefte aan begrip én aandag aan faktore wat die gesamentlike welstand raak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….