Nuus 12:00
BULLETIN 29 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika beskuldig die regering dat hy sy ideologie bo sy eie mense stel
# Die staat vra tronkstraf vir die veroordeelde pedofiel Iain Wares
# En hewige donderstorms word in vyf provinsies verwag
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, versoek die regering om sy ideologiese houding opsy te skuif en die belange van landsburgers eerste te stel. Amerika het nuwe visumbeperkings ingestel teen Suid-Afrikaners wat verbind word met beleid wat sekere groepe benadeel. Bozell het aan Daily Maverick gesê die regering se versuim om die aanhitsing van geweld teen ‘n geteikende groep te veroordeel is verkeerd, en is uiters kortsigtig om te weier om eienaarskapsvereistes te verslap. Bozell sê Amerika hoop die regering heroorweeg sy vyandige houding.
# ‘n Maatskaplike werker vir die staat, Phumzile Sithole, sê die veroordeelde pedofiel Iain Wares moet regstreekse tronkstraf opgelê word. Sy het getuig tydens voorvonnisverrigtinge in die Wynbergse Landdroshof in Kaapstad. Sithole sê die 87-jarige voormalige onderwyser in Skotland en Suid-Afrika toon geen berou nie, ontken sy misdade en gee ander die skuld vir sy skuldigbevinding. Sithole beklemtoon die langtermyn-trauma aan kwesbare kinders, dade wat met voorbedagte rade gepleeg is en die skending van vertroue deur ‘n onderwyser. Slotbetoë word op 23 Oktober aangehoor.
# Die Suider-Afrikaanse Alliansie vir Alkoholbeleid sê die onlangse massaskietvoorvalle het leemtes blootgelê in die wyse waarop drankwinkels en drankondernemings gelisensieer en gemonitor word, veral in arm, digbevolkte gebiede. Agtien mense is die naweek in ‘n taverne in Wedela aan die Gautengse Wes-rand doodgeskiet en tien in Lwandle, Kaapstad. Woordvoerder Nomcebo Dlamini het aan Newzroom Afrika gesê drankondernemings kan nie die skuld plaas op die oorlaaide polisie nie:
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, het ‘n sterk groep van 34 aangekondig vir volgende maand se twee Bledisloebeker-toetse teen die Wallabies. Een-en-dertig spelers wat deel was van die oorspronklike groep van 44 vir die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die Springbokke is behou, asook Richie Mo’unga, wat in Suid-Afrika as ‘n plaasvervanger aangesluit het. Codie Taylor sal die span aanvoer terwyl Scott Barrett terugkeer ná ‘n langdurige besering. Shannon Frizell is die eerste keer sedert 2023 terug in die groep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-142-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: Hewige donderstorms word vandag in dele van Suid-Afrika verwag. Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en die Noord-Kaap kan geraak word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voorspeller, Lehlohonolo Thobela, waarsku die storms kan plaaslike oorstromings, skade aan huise en gevaarlike toestande op paaie veroorsaak. Hy vra inwoners om verspoelde gebiede te vermy, skuiling te soek tydens weerlig en los voorwerpe buite vas te maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….