Nuus 12:00
BULLETIN 22 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aanklagte word amptelik teruggetrek teen die geskorste polisiekommissaris Masemola
# Die parlementêre komitee oor Vervoer veroordeel die gedrag van ‘n SANRAL-kontrakteur
# En die regering gaan op Erfenisdag tien-miljoen bome plant in ‘n gesamentlike reaksie op klimaatsverandering
# Strafregtelike aanklagte is teruggetrek teen die geskorste nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, in die Pretoriase Landdroshof. Hy het tereggestaan ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oor ‘n tender van 360-miljoen-rand tussen die polisie en Medicare 24 van die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala. Masemola is geskors nadat hy aangekla is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het versoek dat die aanklagte teruggetrek word nadat die saak hersien en bevind is daar is nie ‘n redelike vooruitsig op suksesvolle vervolging nie. President Cyril Ramaphosa moet nou besluit of Masemola mag terugkeer as kommissaris.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Vervoer betreur die beweerde voorval waarin ‘n kontrakteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap betrokke was. Die Zimbabwiese sakeman Lawrence Mudzinganyama is op kamera vasgevang toe hy ‘n groep vroue in die Vlamo-restaurant in Sandton, Johannesburg, gedreig het nadat hulle sy toenaderings verwerp het. Voorsitter Donald Selamolela verwelkom minister Barbara Creecy se opdrag om sy SANRAL-kontrakte te hersien om te bepaal of dit aan die vereistes voldoen:
Nuus uit die buiteland:
# Paramount Skydance het ‘n ooreenkoms met 12 Amerikaanse state bereik wat die weg baan vir ʼn samesmelting van 1,8-duisend-miljard-rand met Warner Brothers. Dit sal Paramount se rolprent- en televisie-ateljees, CBS en die Paramount Plus-stroomdiens, saamsmelt met kabelnetwerke soos HBO en CNN. Paramount sal 285-miljoen-rand betaal aan die Skrywersgilde-bedryf se gesondheidsfonds. Kalifornië se prokureur-generaal, Rob Bonta, wat die hofaansoek teen die samesmelting gelei het, sê die skikking sal rolprent-vervaardiging bevoordeel:
# Rugby: Die Wallabie-flank Carlo Tizzano sê ‘n wedstryd teen die Springbokke is die belangrikste toets, maar hulle is gereed daarvoor. Australië het die nuweling Harry McLaughlin-Phillips ingesluit in die groep vir Sondag se eenmalige toets teen die wêreldkampioen op die Optus-stadion in Perth. Die Bokke het Australië 30-12 geklop tydens hul vorige besoek aan die stad in 2024. Tizzano sê hulle sal beter moet vaar as teen Argentinië vroeër die maand:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-818-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-307-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, gaan Donderdag op Erfenisdag ‘n landwye veldtog lei om 10-miljoen bome te plant. Dis deel van president Cyril Ramaphosa se Een-Miljard-Bome-program om burgers aan te spoor om die uitwerking van klimaatsverandering te beperk. Swarts sal die hoofgeleentheid in Vryheidspark in Pretoria lei voor sy by die Gautengse LUR vir Omgewingsake, Ewan Botha, in Noordgesig, Soweto, aansluit. Bome sal in al nege provinsies in veilige openbare ruimtes geplant word, insluitend skole, hospitale, kolleges, polisiekantore, kerke, parke en woongebiede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….