Nuus 12:00
BULLETIN 4 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA begin met regsoptrede om die ANC en Ezulweni se ooreenkoms te verkry
# Die hoofregter ontken dat Mantashe die verslag oor staatskaping suksesvol betwis het
# En, rugby: Frankryk verower hulle eerste mans-sewes-titel in 19 jaar
# ActionSA het bevestig hy het regstappe ingestel om die skuld-ooreenkoms te verkry wat aangegaan is deur die ANC en Ezulweni Investments. Dit volg nadat die ANC skenkings van net tien-miljoen-rand verklaar het in dieselfde kwartaal as wat hy kommunikeer het oor sy 102-miljoen-rand se skuldooreenkoms met Ezulweni. Die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, sê hulle het ook die OVK se Politieke Befondsingseenheid gevra om die ooreenkoms te ondersoek vir die beweerde oortreding van die Wet op Partybefondsing:
# Hoofregter Raymond Zondo het ‘n berig van City Press verwerp wat beweer dat die minister van Minerale en Energie, Gwede Mantashe, die verslag van die staatskapingskommissie suksesvol betwis het. Die kommissie het verdere ondersoeke aanbeveel na Mantashe, wat verband hou met veiligheids-maatreëls by sy huis deur die instellings-bestuurs- en spysenierings-maatskappy Bosasa. Mantashe was destyds die sekretaris-generaal van die ANC. Zondo sê Mantashe se hersienings-aansoek is nog hangende, en is nog nie afgehandel nie.
# Eskom in die Wes-Kaap het ‘n alternatiewe 132-kilovolt-kraglyn vir sy kliënte in die Sentraal-Karoo suksesvol opgerig en geaktiveer, wat gladde herleiding van krag toelaat, indien nodig. Dit volg na ‘n hewige storm verlede maand wat wydverspreide skade aan noodsaaklike infrastruktuur veroorsaak en tot ‘n grootskaalse kragonderbreking van twee weke gelei het. ‘n Eskom-woordvoerder, Zama Mpondwana, sê die projek sal die uitwerking van sulke voorvalle in die toekoms verminder.
# Die Amerikaanse vise-president, Kamala Harris, ontmoet vandag ‘n lid van die Israeliese oorlogskabinet, Benny Gantz, in die Withuis. Washington probeer glo om ‘n ooreenkoms vir ‘n tydelike skietstaking en meer hulp aan Gaza te bewerkstellig. ‘n Amptenaar van die Withuis sê die samesprekings sal na verwagting gaan oor die vermindering van Palestynse burgerlike ongevalle, ‘n tydelike skietstaking, die vrylating van gyselaars wat in Gaza aangehou word en meer hulp aan die gebied.
# Rugby: Frankryk het Groot-Brittanje verslaan en die Wêreldrugby Sewesreeks-titel in Los Angeles verower. Dit is hulle eerste titel in 19 jaar. Frankryk het die mans se goue medalje verseker met drie onbeantwoorde drieë in ‘n 21-nul-oorwinning. Hul enigste vorige oorwinning was in 2005 in Parys. Verder het hulle al ses eindstryde verloor waarin hulle sedertdien meegeding het. Die Speler van die Wedstryd in die eindstryd, Stephen Parez sê dis wonderlik dat hulle verlede week ‘n bronsmedalje in Kanada, en die week die goud kon wen:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-316-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-85-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….