Nuus 12:00
BULLETIN 20 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Geïntegreerde Bronneplan vir 2023 steeds op koers
# President Ramaphosa gaan Education International se 10de Afrika-streekskonferensie toespreek
# En, motorsport: Lewis Hamilton sê die Las Vegas Grand Prix het kritici verkeerd bewys
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa het vordering aangekondig met die aanspreek van die instelling van die Energie-aksieplan. Die minister bevestig ook die Geïntegreerde Bronneplan is steeds op koers. Die plan omskryf aanvraag-projeksies, energiebronne om aan die aanvraag te voldoen, en die instellingskoste wat daarmee gepaard gaan. Ramokgopa lig die gevorderde fase van IRP 2019 uit, en lê klem op voorgesette pogings om bykomende finansiering te verkry vir transmissie. Die minister sê die ontwikkelings onderstreep die regering se toewyding tot die daarstel van ‘n sterk en volhoubare energielandskap.
# President Cyril Ramaphosa gaan dié week die tiende Afrika-streekskonferensie van Education International in Sandton, Johannesburg, toespreek. Die konferensie word bygewoon deur 400 afgevaardigdes, waarnemers en gaste van regoor en buite die streek, wat 32-miljoen lede verteenwoordig. Dit word aangebied deur die Suid-Afrikaanse Education International-lid-organisasies. Die konferensie het gister begin en duur tot Donderdag en is daarop gemik om strategieë daar te stel vir billike en inklusiewe openbare onderwys van hoogstaande gehalte. Deelnemers gee ook aandag aan uitdagings soos Covid-19, Ebola, MIV en Vigs, konflik en klimaatsverandering. Hulle doelwit is die bepaling van die toekoms van onderwys in die Afrika-streek.
# Hittegolftoestande met temperature wat aanhoudend bo die gemiddelde maksimum temperature bly, word van vandag tot Vrydag in die binneland van die Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal verwag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aangekondig die hittegolwe sal na verwagting die hele week in die sentrale en oostelike dele van die land voortduur. Die woordvoerder van die Stad Johannesburg se noodbestuursdiens, Robert Mulaudzi, doen ʼn beroep op inwoners om versigtig te wees tydens hulle daaglikse aktiwiteite:
# Motorsport: Mercedes-renjaer Lewis Hamilton glo die aksiebelaaide Las Vegas Grand Prix het kritici verkeerd bewys wat gesê het dis vertoning bo substansie. Die sewemalige wêreldkampioen wat die wedren in die tiende plek begin het, het teruggeveg en sewende geëindig na 50 rondes vol drama. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen en het met sy 18de oorwinning van die seisoen sy eie rekord verbeter. Hamilton sê hy het die wedren in Vegas geniet, ten spyte van probleme met die motor:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-231-dollar-72-sent. Die prys van goud is een-duisend-977-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-14-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls het sy feestyd-aannemingsprogram vir Afrika-pikkewyne bekendgestel. Pikkewyn-entoesiaste word versoek om ‘n Afrika-pikkewyn aan te neem en ‘n naam te gee, en in ruil daarvoor kry hulle die nuwe fees-sertifikaat. Die organisasie sê, deur dié feestyd ‘n pikkewyn aan te neem, maak die persoon ingryping moontlik, wat lei tot die herstel- en vrylatingsreis van dié ongelooflike spesie. Die stigting sê dis ook ‘n sinvolle manier vir diereliefhebbers om by te dra tot die bewaring van Afrika-pikkewyne.
# Bly ingeskakel vir meer nuus……………….