Nuus 12:00
BULLETIN 17 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê Amerikaanse tariewe sal Suid-Afrika se voertuig- en landbousektor die ergste raak
# TUSAM wil ‘n nasionale gedenkteken vir verklikkers oprig
# En rugby: Die All Blacks se afrigter maak 10 veranderings aan die span vir die laaste toets teen Frankryk
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku dat Amerikaanse tariewe die voertuigvervaardigings- en die landbousektor in Suid-Afrika die ergste sal raak. Amerika gaan vanaf begin volgende maand ‘n tarief van 30-persent op uitvoere uit Suid-Afrika instel. Ongeveer 100-duisend werksgeleenthede in die motor- en die landbousektor is in gevaar, insluitend 35-duisend net in die sitrus-sektor. Kganyago het aan Reuters gesê dit is belangrik vir individuele lande om hulle reaksie op die tariewe by hul ekonomieë aan te pas:
Die DA in die Oos-Kaap vra intussen vir premier Oscar Mabuyane om ‘n gemodelleerde en getoetste ekonomiese versagtingstrategie teen die dreigende tariewe te verskaf. Die party sê die tarief van 25-persent wat in April ingestel is, het reeds verwoestende gevolge vir die provinsie se motorvervaardigingsektor. Vicky Knoetze van die DA sê die nuwe tariewe neutraliseer die voordele van die Wet op Groei Geleenthede Vir Afrika, wat Suid-Afrika vir jare voorkeurtoegang tot Amerikaanse markte gebied het:
# Die United South Africa Movement, TUSAM, sê ‘n nasionale gedenkteken opgedra aan verklikkers en teenkorrupsie-stryders sal ‘n duidelike erkenning wees van hulle opofferings en belangrikheid. Die beweging vra Suid-Afrikaners en enigiemand wat omgee vir demokrasie en instellings om ‘n versoekskrif te teken om verklikkers te vereer. Charmaine Zwieglaar van TUSAM sê fluitjieblasers, bekend en onbekend, speel ‘n onontbeerlike rol in hulle weiering om anderkant toe te kyk wanneer korrupsie gepleeg word; die blootlegging daarvan en die verdediging van die beginsels van deursigtigheid, aanspreeklikheid en geregtigheid.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het tien veranderings aan sy span aangebring vir Saterdag se derde en laaste toets teen Frankryk in Hamilton. Sewe spelers is die eerste keer hierdie seisoen opgeroep. Die haker Brodie McAlister kan sy toetsbuiging van die bank maak. Die stut Tyrel Lomax, die losvoorspeler Luke Jacobson en die agterspelers Anton Lienert-Brown en Sevu Reece het almal van beserings herstel en is in die opdrafspan ingesluit. Robertson sê hulle is voorbereid om ‘n vasberade en begeesterde Franse span te takel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-312-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die Indiese polisie het ‘n man aangekeer in verband met die dood van die wêreld se oudste marathonatleet, Fauja Singh, in ‘n tref-en-trap ongeluk. Die polisie sê die beskuldigde het in ‘n sportnutsvoertuig gejaag toe hy die 114-jarige Brits-Indiese atleet getref het. Die ongeluk het in Punjab in die noorde van Indië gebeur terwyl Singh op sy middagstappie was. Hy was ‘n wêreldwye ikoon en het rekords opgestel vir marathons in verskeie ouderdomskategorieë. Singh het op 89 begin draf en nege volle marathons voltooi voor hy uitgetree het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….