Nuus 12:00
BULLETIN 17 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die liggaam van ‘n negende vrou word in Ekurhuleni gevind
# Die EFF beskuldig Amerika van inmenging in Suid-Afrika se soewereine sake
# En rugby: ‘n Gewese Engelse losskakel glo dit sal iets besonders verg om die Bokke in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi te klop
# Die liggaam van ‘n negende vrou is in Ekurhuleni, Gauteng, gevind. Die liggaam is volgens berigte vroeër vanoggend half geklee en in ʼn laken toegedraai in Dawnpark aangetref. Dit volg nadat die liggame van agt ander vroue die afgelope twee maande in Kemptonpark, Olifantsfontein en Kwathema gevind is. Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, Fred Kekana, sê ʼn multidissiplinêre span speurders, forensiese deskundiges, misdaadintelligensie- en spesialis-eenhede ondersoek al die sterftes:
Intussen vra die Nasionale Raad oor Geslagsgeweld en Vrouemoord gesinne in Gauteng wie se geliefdes vermis word om na vore te kom en te help met die DNS-identifisering van die vermoorde vroue. Die raad sê die polisie het weer beklemtoon daar is geen wagtydperk om ‘n vermiste persoon aan te meld nie. Gesinne is gevra om vermiste persone onmiddellik by hul naaste polisiestasie aan te meld.
# Die EFF sê Amerika het weer getoon hy is bereid om sy diplomatieke en ekonomiese invloed te gebruik om met Suid-Afrika se soewereine sake in te meng. Washington het visumbeperkings ingestel op mense wat volgens hom rasgebaseerde diskriminasie en aanhitsing van geweld teen die Afrikaner-minderheid aanvuur. Die EFF sê Amerika moenie toegelaat word om druk op Suid-Afrika uit te oefen om weg te doen met beleidsmaatreëls wat daarop gemik is om die ekonomiese en rasse-ongelykhede van kolonialisme en apartheid reg te stel nie.
# Rugby: Die gewese Engelse losskakel Stuart Barnes sê dit sal ‘n span aangevoer deur ‘n talentvolle speler soos Ardie Savea van Nieu-Seeland of Antoine Dupont van Frankryk vereis om die Springbokke in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi te klop. Suid-Afrika gaan volgende jaar in Australië probeer om ‘n ongeëwenaarde derde agtereenvolgende titel te wen. Barnes skryf in die Britste Sunday Times die Bokke se organisasie is hul sterkste punt. Hy het Kurt-Lee Arendse, Damian Willemse en Cheslin Kolbe geprys vir hul ratsheid, en Damian de Allende vir sy bestendigheid.
# En finansiële nuus: ‘n Senior ekonoom van FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê die herverskyning van verhoogde geopolitieke spanning, hoër oliepryse en die moontlikheid van hoër huishoudelike leningskoste dui daarop dat verbruikersbegrotings onder druk gaan bly. Kleinhandelverkope was in Julie positief met ‘n toename van 3,4-persent jaar-tot-jaar-groei na 1,1-persent in Junie. Mkhwanazi sê dit veronderstel dat verbruikers se besteding beter hanteer is as wat verwag is, soos reeds gesien in die tweede kwartaal se bruto nasionale produk:
Die rand verhandel tans teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-316-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….