Nuus 12:00
BULLETIN 27 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie maan grondboontjiebotter-vervaardigers om hulle produkte te toets
# President Biden sê ‘n tydelike Israel-Hamas-skietstilstand is dalk teen volgende week moontlik
# En, Rugby: Die Bulle wil hul reeks nederlae teen die Stormers beëindig
# Die Nasionale Verbruikerskommissie vra alle vervaardigers van grondboontjiebotter om hulle produkte te begin toets en vas te stel of die aflatoksien-vlakke daarin aanvaarbaar is. Pick n Pay het vroeër die maand hulle No-Name– en Eden All Natural-grondboontjiebotter van die rakke gehaal nadat verhoogde vlakke aflatoksien daarin gevind is wat skadelik kan wees vir menslike gebruik. Woolworths het onlangs ook sy grondboontjie-roomys onttrek. Volgens die Verbuikerskommissie se waarnemende nasionale kommissaris, Thezi Mabuza, is hulle bekommerd oor die hoeveelheid produkte wat onttrek word:
# Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, sê indien die metro nie sy inkomste-invorderingsteiken van 4,4-miljard-rand van nou tot Julie kan haal nie, sal die salarisverhoging nie in werking tree nie. Mettler het by die Kommisie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ‘n salarisverhoging van 5,4-persent aan vakbonde voorgelê. Hy sê indien die metro nie sy teiken haal nie, beteken dit dat niemand verhogings gaan kry nie en dat partye weer die hersieningsproses sal hervat wat tans in die Arbeidshof hangend is.
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê ‘n nuwe ooreenkoms vir ʼn tydelike skietstilstand tussen Israel en Hamas kan hopelik teen Maandag bereik word. Amerika, Egipte en Katar werk aan ʼn gyselaar-ooreenkoms tussen Israel en Hamas wat daartoe kan lei dat gevegte minstens ses weke lank gestaak word. Die ooreenkoms kan volgens berigte beteken dat Hamas meer gyselaars vrylaat, dat Israel talle Palestynse gevangenes vrylaat en honderde vragmotors met hulp veilig na Gaza gaan.
# Rugby: Die twee voorste Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap pak mekaar Saterdag op Loftus Versfeld. Die Bulle, tans derde, wil graag die bordjies verhang nadat die Stormers, wat sesde is en hulle vorige vyf kragmetings teen die Pretorianers gewen het. Die Bulle se hulpafrigter, Andries Bekker, sê hulle hoop op meer deurlopendheid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-416-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-38-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-77-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Dis vandag Internasionale Ysbeerdag. Die dag val saam met die tydperk wanneer ysbeer-ma’s en hulle kleintjies in die Arktiese gebied hulle winterslaap knus in hulle slaapplekke deurbring. Die dag wil aandag vestig op klimaatsverandering se bedreiging vir ysbere en hulle habitat weens stygende seetemperature en ys wat in die Noordpoolgebied smelt. Polar Bears International sê vanjaar se fokus is op fondsinsameling om ysbeerma’s en hul kleintjies te beskerm en die beste kans op oorlewing te gee terwyl hy ook sy ander bewaringspogings in die Arktiese streek ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….