Nuus 12:00
BULLETIN 14 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die botsing op die N1 in die Wes-Kaap styg tot 21
# Die jongste waarskuwings oor kunsmatige intelligensie het ‘n uitwerking op Asiatiese K-I-aandele
# En rugby: Die Springbokke bereik hulle hoogste punt in die geskiedenis van Wêreldrugby se ranglys
# Owerhede het bevestig die dodetal in ‘n botsing tussen twee minibus-taxis en ‘n ander voertuig op die N1 tussen Prins Albertweg en Leeu-Gamka in die Wes-Kaap het tot 21 gestyg. Nood- en verkeersdienste is steeds op die toneel. Muneera Allie van die Departement Beweeglikheid sê die N1 is steeds gesluit in albei rigtings. Sy het motoriste gevra om die gebied te vermy, beduidende vertragings te verwag en verkeers- en noodpersoneel se aanduidings te volg.
# Die vakbondfederasie COSATU vertrou Transnet se prestasie sal verder verbeter en daarom moet hy in staatsbesit bly. Transnet het einde Maart ‘n wins van 4,6-miljard-rand aangeteken na ‘n netto-verlies van 1,9-miljard-rand die vorige boekjaar. Matthew Parks van COSATU sê die beduidende verbeterings op die land se hawens is bemoedigend, met uitvoerders wat nie meer weke moet wag vir die verwerking van vragmotors en skepe in hawens nie:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, waarsku die landbousektor om nou voor te berei vir die uitwerking van El Niño. Hy sê boere, munisipaliteite en die regering moet vroegtydig optree om voortbestaan te beskerm en risiko’s te verminder. Winde sê hoewel die ergste gevolge van El Niño gewoonlik in somerreënvalgebiede gevoel word, kan die Wes-Kaap risiko’s ondervind soos hoër temperature, ‘n groter gevaar van veldbrande en toenemende druk op waterbronne:
Nuus uit die buiteland:
# Kommer oor die stadiger pas van kunsmatige intelligensie-ontwikkeling het die druk op tegnologie-aandele verskerp, en aandele in K-I-verwante ondernemings in Asië het vandag gedaal. Suid-Korea se KOSPI-aanwyser het met 3,7-persent gedaal, terwyl Chipmaker SK Hynix 5,75-persent gedaal het. Tokio se groot K-I-belegger, SoftBank, het met 13-persent gedaal, terwyl die Taiwan Semiconductor-vervaardigingsonderneming 1,2-persent laer verhandel het. Dit volg nadat die uitvoerende hoof van Anthropic, Dario Amodei, gevra het vir ‘n verlangsaming in A-I-ontwikkeling, en gewaarsku het dit ontwikkel vinnig en kan die mens se vermoë oorskry om dit te bestuur.
# Rugby: Die Springbokke het hul hoogste puntetotaal ooit op die wêreldranglys bereik ná hul sege van 43-28 oor die All Blacks in Baltimore. Die oorwinning het die reeks met 3-1 beklink en aan Suid-Afrika nog 0,75 ranglyspunte besorg. Hul voorsprong boaan die wêreldranglys is nou verder vergroot met ‘n algehele puntetelling van 95,09. Dit is die Bokke se hoogste totaal sedert die ranglys in 2003 ingestel is. Nieu-Seeland is steeds tweede, met Ierland derde, Frankryk vierde en Engeland vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-312-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….