Nuus 12:00
BULLETIN 21 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM sê die verkiesing is ‘n oomblik van rekenskap vir Suid-Afrika
# ‘n Instituut vra die wysiging van die Wet op Dieregesondheid
# En rugby: Die Springbok-vrouesewes wil beter vaar in Vancouver
# Die United Democratic Movement sê die komende verkiesing bied aan Suid-Afrikaners ‘n seldsame kans om los te breek uit die wurggreep van ‘n regerende elite, wat verwyderd is van die wese van demokrasie. President Cyril Ramaphosa het bevestig die algemene verkiesing word op 29 Mei gehou. Die UDM se nasionale sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, sê die party wil vorentoe aanspreeklikheid, deursigtigheid en etiese bestuur sien as die riglyne vir die land:
# Die Suider-Afrikaanse Omgewingsinstituut vir Geloofsgemeenskappe vra dat die Wet op Dieregesondheid gewysig word. Die instituut wil hê die wet moet ‘n verbod plaas op die vervoer van diere deur Suid-Afrika, in toestande wat skadelik is vir hul gesondheid. Die vasgemeerde skip Al Kuwait het sedert Sondag ‘n ondraaglike reuk in Kaapstad veroorsaak. Die skip wat van Brasilië af kom, vervoer 19-duisend beeste. Braam Hanekom van die instituut, sê van die beeste is dood aangetref:
# Die Universiteit van Pretoria bied tans sommige van sy klasse by die Hatfield-kampus aanlyn aan weens voortslepende betogings en die onwettige versperring van ingange na die kampus. Werknemers het verlede week begin staak nadat onderhandelings oor salarisverhogings tussen die vakbond Nehawu en die universiteit ‘n dooiepunt bereik het. Die universiteit sê hy sal studente in hierdie tyd ondersteun, aanlyn-registrasieprosesse fasiliteer en studente bystaan wat sukkel om die vereiste dokumente in te dien.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewes wil by die Wêreldreeks onder die top-agt eindig om hulle kern-status vir volgende seisoen te bevestig. Hulle het in die eerste deel van die reeks een wedstryd in Dubai gewen, niks in Kaapstad nie en twee verlede maand in Perth. Suid-Afrika is die naweek in Vancouver in dieselfde groep as Ierland, Nieu-Seeland en Brasilië. Die Springbok-sewespeler, Marlize de Bruin, sê dit was swaar om verlede maand met sewe-nul teen Brasilië te verloor:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-653-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, Kaapstad se Ou Graanskuur-gebou in Distrik Ses is uiteindelik amptelik herdoop na Desmond en Leah Tutu-huis om die lewe en werk van die ontslape Aartsbiskop-emeritus en sy vrou te eer en te herdenk. Die besluit is verlede jaar goedgekeur. In 2015 het die Desmond en Leah Tutu-erfenisstigting die opknapping van die gebou mede-finansier, sodat die stigting die ruimte as ‘n vredesentrum, argief, museum en kantoorruimte kan gebruik. Kaapstad se burgemeester sê die gebou is ‘n wonderlike metafoor vir die krag van transformasie en genesing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….