Nuus 12:00
BULLETIN 25 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê ‘n verslag van die Ouditeur-generaal ontbloot ‘n verdiepende krisis in metrobestuur
# Die VN vra ‘n einde aan ernstige skendings teen kinders in gewapende konflikte
# En krieket: Stokes ontken onenigheid tussen hom en hoofafrigter McCullum
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Ouditeur-generaal se jongste munisipale ouditverslag toon plaaslike regeringsmislukkings bly steeds ‘n reusebron van kommer, met geen metro wat in die 2024/25-boekjaar ‘n skoon oudit behaal het nie. Julius Kleynhans van OUTA sê inwoners betaal steeds meer vir dienste terwyl hulle vervallende infrastruktuur en swak dienslewering ondervind. Hy vra beter finansiële bestuur en dringende hervormings om munisipaliteite se bestuur te verbeter voor die plaaslike regeringsverkiesing:
Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, is intussen ontevrede met die Stad Johannesburg se vorderingsverslag, en gaan die Tesourie opdrag gee om die oordrag van fondse na die metro te staak. Hy het in ‘n brief aan burgemeester Dada Morero gesê die stap volg nadat die metro ʼn onbefondsde begroting aanvaar het, en sy voortslepende versuim om verkwistende besteding teen te werk. Johannesburg skuld Eskom 3,7-miljard-rand en Rand Water 1,2-miljard-rand. Godongwana gee die metro tot môre tyd om te verduidelik waarom die oordrag van fondse moet voortgaan.
# Die Tshwane-distrikspolisie waarsku ouers en voogde om pro-aktiewe stappe te doen om kinders se veiligheid en welstand te verseker tydens die winter-skoolvakansie, wat môre begin. Woordvoerder Johan van Dyk sê misdadigers teiken dikwels kwesbare kinders wat sonder toesig tuis gelaat word. Hy sê baie voorvalle kan voorkom word deur waaksaamheid, verantwoordelike toesig en die nakoming van basiese veiligheidsmaatreëls:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies sê kinderbeskerming moet deel vorm van alle vredes-, veiligheids- en na‑konflikprosesse. ‘n Verslag toon soldate en regeringsmagte het verlede jaar meer ernstige skendings teen kinders gepleeg as onafhanklike gewapende groepe. Die verslag bevestig 38-duisend-558 ernstige oortredings teenoor 24-duisend-174 kinders. Die VN se spesiale verteenwoordiger vir Kinders en Gewapende Konflik, Vanessa Frazier, sê kinders wat by gewapende groepe betrokke is, moet ook as slagoffers beskou word.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, hou vol daar is geen onenigheid tussen hom en afrigter Brendon McCullum nie. Stokes en die snelbouler Gus Atkinson is uitgelaat vir die tweede toets teen Nieu-Seeland ná ʼn voorval in ʼn nagklub. Engeland het ver verloor. Hulle is onskuldig bevind na ondersoeke deur die Engelse en Walliese Krieketraad en die Onafhanklike Krieket-reguleerder. Stokes sê sy skorsing het hom en McCullum nader aan mekaar gebring:
Die beslissende toets word van vandag op Trent Bridge in Nottingham gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-635-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-995-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….