Nuus 12:00
BULLETIN 18 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kanadese toeris is doodgeskiet in die Krugerwildtuin
# Die Parlement se Regsdienste steun die ampsklagkomitee se teenkanting van Ramaphosa se hofaansoek
# En sokker: Bafana Bafana se afrigter hou vol hy sal dinge op sy manier doen
# ‘n Kanadese toeris is gisteraand in die Krugerwildtuin doodgeskiet. Die voorval het plaasgevind in ‘n piekniekgebied naby die Phabeni-hek wat deur ‘n privaat operateur bedryf word. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê ‘n privaat gids verbonde aan die operateur het na bewering per ongeluk ‘n vuurwapen afgevuur wat die 69-jarige gas noodlottig getref het. Die slagoffer was deel van ‘n groep wat buite die park oorgebly en slegs ingekom het vir ‘n bosbraai. ‘n Privaat onderneming met ‘n geldige permit bedryf die gebied.
# Die Parlement se kantoor vir Grondwetlike en Regsdienste sê die ampsklagkomitee het goeie redes om president Cyril Ramaphosa se dringende hofaansoek teen te staan. Ramaphosa het dit gedoen om die ampsklagproses te keer hangende ‘n hersiening van die Artikel 89-verslag. Senior advokaat William Mokhare glo die komitee kan onafhanklik en onpartydig voortgaan met sy werk:
# Die vakverbond Cosatu het kommer uitgespreek oor die stygende verbruikersprysinflasie, en sê dit gaan werkers raak wat reeds diep in die skuld is. Inflasie het verlede maand tot 4,5-persent geklim teenoor vier-persent in April. Dis die hoogste jaarlikse koers sedert Julie 2024, toe inflasie 4,6-persent was. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran sal hopelik help om hoë brandstofpryse te laat daal:
Nuus uit die buiteland:
# Apple se uittredende uitvoerende hoof, Tim Cook, sê prysstygings in die produklyn is nou onvermydelik weens stygende geheue- en bergingskaart-koste. Die oplewing in kunsmatige intelligensie en ontwrigtings in die wêreldwye heliumvoorraad weens konflik in die Midde-Ooste het prysstygings in geheuekaarte veroorsaak. Helium is ‘n noodsaaklike gas in die vervaardiging van halfgeleiers. Cook het aan Wall Street Journal gesê daar is tans minder voorraad terwyl die vraag na die toestelle hoog is. Hy sê die onderneming het probeer om kliënte te beskerm, maar die situasie het onvolhoubaar geword.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy sal dinge steeds op sy manier te doen en steur hom nie aan die onsin oor hom op sosiale media nie. Suid-Afrika gaan vandag teen die Tsjeggiese Republiek probeer om sy Wêreldbeker-veldtog reg te ruk. Broos het onder hewige kritiek deurgeloop na die nederlaag teen die mede-gasheer, Mexiko, in die openingswedstryd. Hy sê hulle enigste doelwit is om beter te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-526-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-286-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….