Nuus 12:00
BULLETIN 17 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen word afgedank as minister van Landbou
# Kaapstad vra Transnet om die hawe vinniger te verbeter
# Sentrums waarsku die Ebola-uitbreking in die DRK kan die ergste nóg wees
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het John Steenhuisen verwyder as minister van Landbou ná ‘n hersiening van die party se span in die regering van nasionale eenheid. Steenhuisen neem oor as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging in die plek van Alexandra Abrahams. Die huidige minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, volg Steenhuisen op en David Maynier sal vir Aucamp vervang. Yusuf Cassim is nou die adjunkminister van Hoër Onderwys, en Jack Bloom die adjunkminister van Water en Sanitasie. Hill-Lewis sê die veranderings was nodig:
# Die Stad Kaapstad het Transnet weer gevra om sy strategieë vinniger uit te voer om doeltreffendheid op die Kaapstadse hawe te verbeter. Dit is tans laaste op die Wêreldbank se aanwyser vir vraghantering. Navorsing deur die Wes-Kaapse regering het bevind ‘n doeltreffender hawe kan sowat ses-miljard-rand se bykomende uitvoere ontsluit en byna 20-duisend werksgeleenthede ondersteun. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Suid-Afrika kan nie ʼn onderpresterende hawe bekostig nie:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê onbeheerde migrasie kan onbestendigheid vererger en moet dus op ʼn wettige, ordelike en menslike manier bestuur word. Meer as 45-miljoen Afrikane leef nie in hul geboorteland nie. Lamola sê Suid-Afrika is ʼn gewilde bestemming vir migrante wat hoofsaaklik uit lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap kom, maar toenemend ook uit die res van Afrika, Europa en Asië:
# Die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming waarsku die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda kan moontlik die ergste nóg wees. Meer as 800 gevalle van die seldsame Bundibugyo-stam, waarvoor daar geen bewese behandeling of entstof is nie, is in die land aangemeld, waarvan 192 noodlottig was. Uganda het 19 gevalle bevestig, met twee sterftes. Die sentrums se direkteur-generaal, Jean Kaseya, sê duisende mense wat kontak met besmette pasiënte gehad het moet nog opgespoor word.
# Rugby: Die afrigter van Suid-Afrika-A, Mzwandile Stick, het ‘n gebalanseerde groep met ervaring en jeug aangewys vir Saterdag se kragmeting met Zimbabwe in Gqeberha. Dit sluit vyf Springbokke in. Die Haaie-voorspeler Vincent Tshituka sal die span aanvoer. Die ander toetsspelers in die opdrafspan is die dubbele Wêreldbeker-wenner, Lukhanyo Am, Phepsi Buthelezi, Neethling Fouché en Boan Venter. Stick het ook ‘n opwindende groep nuwelinge gekies, onder andere Luan Giliomee, Markus Muller, Jaco Williams en Zekhetelo Siyaya.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-225-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-321-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….