Nuus 12:00
BULLETIN 5 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oorstromings sal na verwagting sitrusuitvoere met minstens vyf-persent verminder
# ‘n Parlementêre subkomitee kom ooreen oor die reëls vir die ampsklagkomitee
# En byna 600 omgewings- en grondbeskermers is die afgelope drie jaar vermoor of het verdwyn
# Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika waarsku ernstige oorstromings sal uitvoervolumes in belangrike sitrusgebiede met minstens vyf-persent verminder. Die gebiede wat die ergste geraak word sluit in Patensie in die Oos-Kaap en Citrusdal en die Boland in die Wes-Kaap. Die vereniging sê skadebepalings word gedoen, met van die produsente wat steeds nie toegang tot hul boorde het nie. Mandaryn-gewasse is die ergste getref nadat infrastruktuurskade die oes ontwrig het. Die vereniging sê ondanks laer volumes, bly die gehalte en betroubaarheid van sitrusuitvoere na internasionale markte tans ongeskonde.
# ‘n Subkomitee van die Nasionale Vergadering se reëlskomitee het ooreengekom oor die reëls wat die werk van die ampsklagkomitee sal lei. Dis in ooreenstemming met die Konstitusionele Hof se beslissing dat die ampsklag-prosedure teen president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-sage voortgaan. Hy het die Artikel 89-paneel se verslag in hersiening geneem en benadruk dat hy nie die ampsklagkomitee se voorbereidingswerk sal teenstaan nie. Die subkomitee se voorsitter, Doris Mpapane, sê die voorgestelde reëls sal volgende week vir oorweging aan die reëlskomitee voorgelê word.
Die Vryheidsfront Plus sê intussen die ANC word reeds te lank toegelaat om die Grondwet te manipuleer om hom te pas, insluitend om dit te probeer wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Dis vanjaar 30-jaar sedert die Grondwet aanvaar is. Partyleier Corné Mulder sê ʼn grondwet kan van tyd tot tyd aangepas word vir ʼn geldige rede, maar sommige partye wil dit nie net verander nie, maar heeltemal daarmee wegdoen:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê vandag se vriendskaplike wedstryd teen Jamaika is die ideale geleentheid om taktiek uit te klaar voor Donderdag se eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Mexiko. Suid-Afrika kon nie oorwinnings behaal in sy laaste vier wedstryde nie. Die doelskopper-posisie is die grootste kwessie wat uitgestryk moet word. Bafana het teen Nicaragua 22 geleenthede verbeur om punte aan te teken. Broos sê Jamaika is ʼn sterk teenstander:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-591-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-462-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte, Volker Türk, vra op Wêreldomgewingsdag meer beskerming vir omgewings- en grondbeskermers. Byna 600 van hierdie aktiviste is die afgelope drie jaar wêreldwyd vermoor of het spoorloos verdwyn, terwyl baie ander in minstens 55 lande aangehou is. Türk sê dis skokkend dat mense wat kinders se toekoms verdedig, vervolg word ingevolge wette wat ontwerp is om terrorisme en georganiseerde misdaad te beveg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….