Nuus 12:00
BULLETIN 16 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onthul minister Mchunu word nou strafregtelik ondersoek
# Rugby: Johan Ackermann word aangestel as die Bulle se nuwe hoofafrigter
# En Severance kry 27 Emmy-benoemings
# Die DA sê die polisie het bevestig dat sy strafregtelike aanklagte teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu, nou ondersoek word. Die minister is op spesiale verlof geplaas te midde van bewerings van korrupsie en politieke inmengery in ondersoeke. Baxolile Nodada van die DA sê Mchunu, soos alle ander Suid-Afrikaners, moet die land se wette gehoorsaam en as wette oortree word, moet dit strafregtelik ondersoek word:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party het die vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee uitgestel om te werk aan belangrike politieke kwessies, insluitend die toestand van die regering van nasionale eenheid en alliansieverhoudings. Mbalula aan die media gesê dis gedoen om verdere gesprekke met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party moontlik te maak na sy skerp kritiek op die regering van nasionale eenheid, en sy standpunt om alleen aan toekomstige verkiesings deel te neem:
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid waarsku motoriste om ander roetes te gebruik ná ‘n ernstige voorval vanoggend op die R71 naby Magoebaskloof, bo Ruskamp. ʼn Vragmotor vol gassilinders het gebots en aan die brand geslaan. Dit het tot talle ontploffings gelei wat die nabygeleë plantasie aan die brand gesteek het. Die departement se woordvoerder, Matome Taueatsoala, sê die R71 is tot verdere kennisgewing vir alle verkeer gesluit:
# Rugby: Die Bulle het die driemalige Suid-Afrikaanse Afrigter van die Jaar, Johan Ackermann, as nuwe hoofafrigter aangestel. Jake White en die Bulle het vroeër die maand ooreengekom dat hulle paaie na vyf jaar skei nadat hy die span tot drie Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryde in vier seisoene gelei het. Ackermann beskryf sy aanstelling as ‘n droom wat waar geword het. Die Blou Bulle-maatskappy se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, sê Ackermann is nie net ‘n uitstekende breier nie, maar ook ‘n leier wat die waardes van die unie uitleef.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-193-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-96-sent per vat.
# En laastens, Apple TV+ se reeks Severance het 27 benoemings ontvang vir die 77ste Emmy-toekennings. Dit sluit in beste dramareeks en beste hoofrolspeler vir Adam Scott. HBO Max se The Penguin het 24 ontvang en The Studio en The White Lotus albei 23. Die 77-jarige Matlock-ster, Kathy Bates, is nou die oudste vrou in die kategorie vir beste aktrise. Adolescence het 13 benoemings ontvang met die 15-jarige Owen Cooper wat een van die jongste akteurs ooit is wat benoem word. Die toekenningseremonie vind op 14 September in Los Angeles plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….