Nuus 12:00
BULLETIN 3 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering monitor globale en binnelandse faktore wat brandstofkoste beïnvloed
# Die WMO raam daar’s ‘n 80-persent-kans op El Niño in die volgende drie maande
# En sokker: Bafana Bafana se visum-drama is uiteindelik verby en die hulpafrigter is op pad na Mexiko
# Die regering sê hy monitor steeds globale en binnelandse faktore wat brandstofkoste beïnvloed en die uitwerking daarvan op huishoudings en sakeondernemings. Dit volg na die jongste petrolprysverhoging van een-rand-43 sent per liter, terwyl dieselpryse met tot drie-rand-23-sent per liter gedaal het. Regeringswoordvoerder William Baloyi sê pogings is aan die gang om verbruikers teen verdere brandstofprysstygings te beskerm:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing en Rand Merchant Bank se Sakevertroue-aanwyser het in die tweede kwartaal met agt punte gedaal tot 39. Nuwe voertuighandelaars, groothandelaars, kleinhandelaars en boukontrakteurs het die skerpste dalings aangeteken. Vervaardiging het wel verbetering getoon het, al was dit met net een punt, maar dit word steeds onderdruk weens swak aanvraag. RMB se hoofekonoom, Isaah Mhlanga, sê die daling is teleurstellend, maar nie onverwags nie, gegewe die ernstige verswakking in die wêreldwye makro-ekonomiese omgewing, eerder as enige groot tekortkomings in Suid-Afrika se basiese beginsels.
# Die Vryheidsfront Plus sê die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer in Gauteng en die feit dat baie vee in die provinsie nie gereguleer of geregistreer nie, plaas die landbousektor in ernstige gevaar. Die regering wil teen die einde van die jaar 80-persent van Suid-Afrika se nasionale kudde inent. Jaco Mulder van die party sê die Landboudepartement se grootste uitdaging is die onvermoë om die beweging en oorsprong van alle lewende hawe te monitor en na te gaan:
# Die Wêreld-weerkundige Organisasie sê daar is ‘n 80-persent kans dat El Niño vanaf hierdie maand tot Augustus sal voorkom, en ‘n bykans 90-persent waarskynlikheid dit sal tot November voortduur. Die gereelde opwarming van seeoppervlak-temperature in die Stille Oseaan lei gewoonlik tot uiterste weerstoestande en wisselvallige reënvalpatrone. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, sê dit beklemtoon die behoefte aan ‘n verskuiwing weg van fossielbrandstowwe na hernubare energie:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Bafana Bafana se hulpafrigter, Helman Mkhalele, en veiligheidshoof, Mdu Mbatha, het vertrek om by die res van die Wêreldbeker-groep in Mexiko aan te sluit nadat hul visums uiteindelik toegestaan is. Die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg het hul aanvanklike aansoeke om onbekende redes afgekeur. SAFA sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het ingegryp, waarna albei beamptes visums ontvang het. Bafana Bafana speel Vrydag ʼn vriendskaplike opwarmingswedstryd teen Jamaika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-947-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-455-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….