Nuus 12:00
BULLETIN 1 June 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kenner verbind die ontploffings by Woolworths met afpersing, maar terrorisme is nie uitgesluit nie
# Binnelandse Sake versnel die bekendstelling van slim-ID-kaarte deur banke en digitale stelsels
# En sokker: Ramaphosa sê dit was ‘n lang en moeilike pad om Bafana Bafana se prestasies te verbeter
# Willem Els van die Instituut vir Sekerheidstudies sê verlede week se twee bomontploffings by Woolworths-winkels in Gauteng en die Vrystaat beklemtoon breër kommer oor georganiseerde misdaad en afpersing in Suid-Afrika. Die eerste ontploffing het Donderdag by Woolworths se tak in Menlynpark in Pretoria plaasgevind. Die tweede was minder as 24-uur later by die Preller Square-tak in Bloemfontein. Die Valke ondersoek die voorvalle. Els sê dis te vroeg om die motief te bepaal en wie agter die aanvalle was, maar terreur kan nog nie uitgesluit word nie.
# Business Leadership Suid-Afrika sê die land bevind hom tans in ‘n relatief sterk posisie te midde van geopolitieke spanning, danksy agt jaar van fiskale dissipline en strukturele hervormings. Twee groot graderingsagentskappe, Standard and Poor’s en Moody’s, het die land se vooruitsig na positief aangepas. Die Reserwebank het intussen rentekoerse met 25 basispunte verhoog weens stygende wêreldinflasie. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê Suid-Afrika moet nou sy olievoorsiening internasionaal verseker en doelgerig werk om gunstige handelsooreenkomste te beklink.
# Die energiereguleerder, NERSA, het al 176 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders se tariefaansoeke vir die 2026/27-boekjaar oorweeg en goedgekeur. Die nuwe tariewe vir munisipale en privaat verspreiders sal volgende maand in werking tree. Woordvoerder Charles Hlebela sê dis in ooreenstemming met die bepalings van die Wet op Elektrisiteitsregulering, en in ooreenstemming met die hofbevele van Februarie en Mei wat sperdatums opgelê het om die oorweging en goedkeuring van die tariefaansoeke te finaliseer:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die departement versnel die bekendstelling van slim-ID-kaarte deur banke en digitale stelsels. Volgens die Suid-Afrikaanse identiteitsbeheer-platform VerifyNow het nabootsingsbedrog met groen ID-boeke jaarliks toegeneem met 400-persent, omdat bedrieërs kunsmatige intelligensie gebruik om die ou identifikasiestelsel uit te buit. Schreiber sê die groen ID-boek is uiters kwesbaar vir bedrog, identiteitsdiefstal en dokument-wassery:
# Sokker: President Cyril Ramaphosa sê dit was ‘n lang en uitdagende pad om Bafana Bafana se prestasies te verbeter, met die nasionale span wat op pad is na die Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika neem die eerste keer sedert 2010 weer aan die toernooi deel. Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die beheerliggaam, SAFA, asook ligas, klubs en borge geprys vir hul toewyding om die sport te ontwikkel. Hy sê Suid-Afrikaners sal die span deur die hele toernooi ondersteun.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-756-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-492-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….