Nuus 12:00
BULLETIN 25 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oliepryse daal met meer as vyf-persent te midde van optimisme oor ‘n moontlike vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran
# Die Monetêre Beleidskomitee staan voor ‘n moeilike besluit oor rentekoerse namate inflasiedruk toeneem
# En SANParke verskerp sy veiligheid ná die moorde in die Krugerwildtuin
# Oliepryse het vandag ‘n twee-weke laagtepunt bereik met ‘n daling van meer as vyf-persent, aangevuur deur groeiende optimisme oor ‘n moontlike vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran. Die lande het die naweek vordering getoon in pogings om ‘n ooreenkoms te bereik, met gesprekke oor die heropening van die Seestraat van Hormoes en Teheran se kernprogram. Brent-ruoliepryse het in Asië met 5,5-persent gedaal, terwyl Amerikaans-verhandelde ru-oliepryse 5,9-persent laer was. Ontleders sê egter indien ‘n ooreenkoms bereik word, kan dit nog maande neem voor olieverskepings deur die seestraat volledig terugkeer na normaal.
Suid-Afrika se Monetêre Beleidskomitee verkeer intussen onder ernstige druk voor Donderdag se rentekoersbesluit. Verbruikers hoop op ‘n verlaging om leenkoste te verlig, maar hardnekkige wêreldwye brandstofskokke het die jaarlikse verbruikersprysinflasie tot vier-persent verhoog. Hierdie skielike styging bereik die hoogste punt van die Reserwebank se streng teikenreeks. ‘n Onafhanklike ekonoom, John Loos, sê die veiligste benadering sou wees om die terugkoopkoers op 6,75-persent te hou, aangesien markte prysbestendigheid vereis.
# SANParke sê veiligheidsmaatreëls word verskerp in die Pafuri-gedeelte van die Krugerwildtuin na die moord op twee toeriste. Die liggame van Dina en Ernst Marais van Mosselbaai is verlede week in die gebied gevind. Owerhede vermoed hul voertuig is oor die grens na Mosambiek geneem. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê bykomende veldwagters en moniteringsbronne sal ontplooi en waarnemingstegnologie opgradeer word. Hy verseker besoekers die wildtuin is steeds veilig ondanks die moorde:
# Die GOOD-party vra ‘n dringende openbare verduideliking vanaf die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing oor die agteruitgang van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuine in Kaapstad. Dit volg nadat ‘n omgewingsbewuste en langtermyn bydraer tot Kirstenbosch, James Deacon, gesê het die tuine begin vervalle lyk. Die party se voorsitter, Matthew Cook, sê Deacon se weergawe skets ‘n verwoestende prentjie van ingewortelde verwaarlosing:
# Tennis: Die derde-gekeurde Novak Djokovic het sy poging om ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel te buit goed begin met ʼn oorwinning in die eerste ronde van die Franse Ope. Die Serwiër het die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard geklop. Die sewende-gekeurde Taylor Fritz het verloor teen sy Amerikaanse landgenoot, Nishesh Basavareddy. Alexander Zverev van Duitsland het sy veldtog afgeskop met ʼn sege oor Benjamin Bonz van Frankryk. In die vroue-afdeling het die Britse nommer een, Emma Raducanu, in die eerste ronde teen die Argentyn Solana Sierra verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-227-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-554-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….