Nuus 12:00
BULLETIN 13 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie-en-twintig plaaswerkers is gered in ‘n massa-reddingsoperasie in die Boland
# Minister Gwarube sê ‘n diensverskaffer sal aangestel word om die omstrede handboektender te ondersoek
# En Suid-Afrika bereik hierdie week ‘n jaar sonder beurtkrag
# Drie-en-twintig plaaswerkers en hul gesinne is gered op ‘n plaas langs die ou N1-pad tussen Worcester en Rawsonville in die Wes-Kaap. Die werkers was volgens berigte sedert Maandag vasgekeer op plaasstrukture se dakke as gevolg van stygende vloedwater. Craig Lambinon van die Nasionale Seereddingsinstituut sê drie plaaswerkers se liggame is ook gevind:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê haar departement is besig om ‘n diensverskaffer aan te stel om die handboektender van 1,6-miljard-rand te ondersoek. ‘n Gedeelte van die tender vir die publikasie van leerwerk- en onderrig-ondersteuningsmateriaal vir grondslagfase-leerders is toegeken aan die nuutgestigte Lighthouse Publishing, wat oor geen vorige ervaring beskik nie. Gwarube sê ‘n voorlopige interne oudit het sekere bekommernisse uitgelig wat verdere aandag en ‘n deeglike ondersoek regverdig:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het begunstigdes gerusgestel dat maatskaplike toelaes sal voortgaan ondanks die voortgesette regsgeskil met die Posbank. Die bank vra tussentydse verligting om te keer dat SASSA die diensooreenkoms staak en voer aan miljoene begunstigdes kan bankkoste ondervind en beskerming teen ongemagtigde aftrekkings verloor as die ooreenkoms verstryk. Die agentskap sê Posbank het nie sy kontraktuele verpligtinge nagekom nie. SASSA se woordvoerder, Paseka Letsatsi, hou vol alle toelaes sal betaal word.
# Krieket: Die snelbouler Darcie Brown is nie ingesluit in Australië se groep van 15 vir die Vroue-T20-Wêreldbekertoernooi in Engeland en Wallis nie. Keurders het die onervare Lucy Hamilton in haar plek gekies. Die veelsydige Sophie Molineux het ‘n fiksheidstoets geslaag en sal die span aanvoer. Die ervare Ellyse Perry en Beth Mooney is ook ingesluit. Die keurder Shawn Flegler sê Brown se weglating is weens die toestande wat hulle verwag en die span se samestelling. Australië se eerste wedstryd is op 13 Junie teen Suid-Afrika op Old Trafford.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-25 teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-56-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-699-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika bereik hierdie week 365 dae sonder beurtkrag, met die laaste beduidende beurtkrag wat op 15 Mei verlede jaar ingestel is. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die mylpaal weerspieël die vordering na bestendige kragvoorsiening. Hy het aan SABC News gesê alle provinsies sal na verwagting teen Maart 2027 ook kragvermindering oorwin. Ramokgopa bevestig planne om kernkrag uit te brei, asook ‘n 20‑jaar-strategie vir steenkoolkragstasies:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….