Nuus 12:00
BULLETIN 12 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N1 by Worcester is gesluit te midde van ‘n erge storm in die Wes-Kaap
# Minister Motsoaledi sê meer as 90 hantavirus-kontakgevalle is tot dusver in Suid-Afrika geïdentifiseer
# En sokker: SAFA begin die proses om ‘n plaasvervanger vir Bafana Bafana-afrigter Hugo Broos te vind
# Die N1 by Worcester bly gesluit weens die stormweer wat steeds die Wes-Kaap teister. Provinsiale regeringswoordvoerder Kristoff Adelbert sê motoriste wat na Kaapstad moet reis, moet alternatiewe roetes slegs as laaste uitweg gebruik en uiters versigtig bestuur. Hy waarsku oorstromings, sterk wind en swak sigbaarheid maak reis gevaarlik. Adelbert vra mense om onnodige ritte te vermy terwyl noodspanne reageer op die verslegtende weerstoestande:
Intussen ontwrig die gure weer Eskom se netwerk in die provinsie en duisende verbruikers is sonder kragtoevoer. Woordvoerder Daphne Mokwena sê herstelspanne is uitgestuur, maar onveilige toestande maak sommige infrastruktuur ontoeganklik. Sy sê Eskom werk saam met provinsiale rampbestuur om die omvang van die skade te bepaal en toevoer te herstel:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê Suid-Afrika werk nou saam met die Wêreldgesondheids-organisasie om hantavirus-kontakte op te spoor. Die uitbreking op die passasierskip, MV Hondius, het drie lewens geëis.
Twee plaaslike gevalle was ‘n Nederlandse vrou wat gesterf het nadat sy op die OR Tambo-internasionale Lughawe geland het, en ‘n Brit in ‘n Johannesburgse hospitaal. Motsoaledi het aan die SABC gesê 97 kontakte is geïdentifiseer en 90 word gemonitor:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sê lede in Pretoria is onder diegene wat verbind word met bewerings van verkragting waarby polisielede betrek word. Woordvoerder Lizzy Suping bevestig OPOD het altesaam 116 nuwe verkragtingsake landwyd aangeteken teen die einde van die verslagtydperk op 31 Maart, met 21 in Gauteng. Sy sê die bevinding het toenemende openbare kommer oor vertroue, aanspreeklikheid en interne wangedrag binne wetstoepassing laat ontstaan, veral in instellings wat bedoel is om gemeenskappe te beskerm en geregtigheid te handhaaf.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê die proses begin binnekort om ‘n nuwe hoofafrigter vir Bafana Bafana te vind na Hugo Broos se vertrek. Broos is in sy vyfde en laaste jaar by die span en het aangedui dat hy gaan uittree ná die Wêreldbekertoernooi, wat volgende maand in Noord-Amerika afskop. Die voorsitter van SAFA se tegniese komitee, Jack Maluleke, sê hulle wil onmiddellik na die toernooi ʼn nuwe afrigter aanstel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-43 teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-776-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-697-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….