Nuus 12:00
BULLETIN 7 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die WGO spoor passasiers na op ‘n vlug van St Helena na Johannesburg weens kommer oor die hantavirus
# Drie polisiekonstabels sterf in ‘n skietvoorval in Kariega
# En minstens 70 burgerlikes sterf en meer as 500 is beseer in Oekraïne sedert die begin van Mei
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming monitor 82 passasiers en ses bemanningslede wat op 25 April op ‘n Airlink-vlug van die eiland Sint Helena na Johannesburg gereis het. Dit volg nadat ʼn 69-jarige Nederlandse vrou wat ʼn passasier op die vlug was, kort na haar aankoms aan die hantavirus dood is. Sy was een van ʼn groter groep passasiers van die MV Hondius-passasierskip. Die WGO sê hulle hou die passasiers dop omdat hulle eerder oorversigtig is.
# Die polisie in die Oos-Kaap het bevestig dat drie lede vanoggend in Kariega doodgeskiet is. ʼn Woordvoerder, Nobuntu Gantana, sê hulle het ʼn klagte ontvang oor skote wat afgevuur is, en op die drie konstabels met talle skietwonde afgekom. Sy sê een van hulle, die gewese kêrel van ʼn vroue-konstabel, het toegang gekry tot ʼn huis waar sy en nog ʼn polisielid was:
# Die landbou-organisasie Saai waarsku Artikel Tien van die bek-en-klouseer-inentingskema kan die uitdagings in die bestuur van die uitbreking vererger. Die organisasie voer aan die skema gee te veel mag aan die direkteur van Dieregesondheid ondanks vorige mislukkings met die hantering van uitbrekings. Francois Rossouw van Saai waarsku vee-eienaars kan aansienlike finansiële druk ondervind aangesien hulle die inentings- en veeartsenykundige koste ingevolge die program moet dek:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Menseregte‑waarnemingsending in Oekraïne sê minstens 70 burgerlikes is dood en meer as 500 beseer sedert die begin van die maand. Rusland se lugbomme tref steeds die land, onder meer in Zaporizhzhia, Kramatorsk en die westelike streke. Die hoof van die sending, Danielle Bell, sê baie van die aanvalle is in digbevolkte stedelike gebiede, wat bydra tot die hoë dodetal. Sy voeg by enige strydende party moet ingevolge internasionale humanitêre reg alle moontlike uitvoerbare maatreëls tref om burgerlike verliese tot die minimum te beperk.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Mamelodi Sundowns, het sy kans verbeur om sy voorsprong boaan die Premierliga-punte te vergroot na ‘n gelykopstryd teen Kaizer Chiefs op Loftus Versfeld. Flavio Silva het Amakhosi laat voorloop en Bryan Leon het die telling gelykop gemaak. Die Brasiliane is nou net drie punte voor Orlando Pirates, wat een wedstryd minder gespeel en ‘n beter doelverskil het. Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, is gefrustreerd met sommige beslissings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-385-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-741-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….