Nuus 12:00
BULLETIN 6 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal styg terwyl oorstromings dele van die land teister
# ‘n Parlementêre komitee vra voortgesette openbare betrokkenheid rakende die Hantavirus-geval in Suid-Afrika
# En die beskuldigde in die skietvoorval in die Withuis word aangekla van ‘n vierde oortreding
# Oorstromings het reeds drie mense se lewens geëis terwyl swaar reën oor die land voortduur. Die Nasionale Rampbestuursentrum sê twee liggame is in die Noord-Kaap gevind na die dood van ‘n 12-jarige in Taung, Noordwes. ‘n Oranje vlak agt-waarskuwing bly van krag met gesamentlike bedryfsentrums landwyd aktief. Infrastruktuurskade is in Noordwes en die Noord-Kaap aangemeld, terwyl die Wes-Kaap, veral die Tuinroete, noukeurig gemonitor word. Die gure weer sal na verwagting tot môre voortduur.
Intussen sê die Wes-Kaapse Departement vir Beweeglikheid Meiringspoort tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn is tans weens oorstromings gesluit. Die departement se hoof van Verkeersbestuur, Maxine Bezuidenhout, sê motoriste wat tussen die Tuinroete en die Karoo reis, moet eerder die N9 van George deur Uniondale, Willowmore en Aberdeen gebruik en by die R61 na Beaufort-Wes aansluit:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid vra voortgesette deursigtigheid en openbare betrokkenheid rakende ‘n bevestigde geval van die Hantavirus in Suid-Afrika. Die Departement van Gesondheid het die geval bevestig nadat die toestand van ‘n pasiënt aan boord van die passasierskip MV Hondius sy oorplasing na ‘n Johannesburgse hospitaal genoodsaak het. Die komitee se voorsitter, Faith Muthambi, sê hulle sal ontwikkelings noukeurig dophou, insluitend die vordering van kontakopsporing, oorgrens-inligting en die bestuur van gevalle.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Amerikaanse federale jurie het ‘n vierde aanklag van aanranding met ‘n dodelike wapen bygevoeg teen die beskuldigde in die skietery tydens die Withuis-korrespondentevereniging se dinee, Cole Tomas Allen. Die Amerikaanse regsverteenwoordiger vir die Columbia-distrik, Jeanine Pirro, sê die 31-jarige is reeds aangekla van poging tot sluipmoord op president Donald Trump, die vervoer van ‘n vuurwapen met die doel om ‘n misdaad te pleeg, en die afvuur van ‘n vuurwapen:
# Rugby: Die Bulle se Springbok-senter, Jan Serfontein, het uitgetree na ‘n roemryke beroepsloopbaan van 15 jaar. Die 33-jarige Serfontein het in 35 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf, asook in 2015 se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Hy het vyf seisoene vir die Bulle gespeel voordat hy in 2017 by die Franse klub Montpellier aangesluit het. Daar het hy oor agt seisoene meer as 140 wedstryde gespeel en die Top 14-titel in 2022 gebuit. Serfontein het verlede jaar na die Bulle teruggekeer, maar dis deur ʼn ernstige kniebesering kortgeknip.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-528-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-678-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….