Nuus 12:00
BULLETIN 5 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA waarsku die brandstofprys-stygings gaan die landbousektor se oesseisoen raak
# Die VF Plus sê Emfuleni se ontkenning dat riool die Vaalrivier-stelsel besmet is oneerlik
# En minstens 26 mense sterf in ‘n ontploffing by ‘n vuurwerke-fabriek in China
# Die landbou-organisasie, TLU SA, waarsku die brandstofprys-styging gaan ‘n aansienlike uitwerking op die landbousektor hê met koringboere wat begin plant terwyl sitrus- en aarbeiboere begin oes. Die petrolprys styg môre met drie-rand-27-sent per liter en diesel met ses-rand-19-sent per liter. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê boere sukkel om koste laag te hou en brandstof te verseker. Hy sê in die 2026/27-seisoen sal ses-persent minder koring geplant word:
Forum for South Africa sê die jongste brandstofprysverhogings is ekonomiese geweld teen landsburgers. Lampolie sal môre vier-rand-22-sent per liter meer kos. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die regering moet ophou om agter globale faktore te skuil wanneer hy brandstofpryse verhoog:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die Emfuleni-munisipaliteit is oneerlik wanneer hy sê berigte van onverwerkte riool wat in die Vaalrivier-stelsel gestort word, is onwaar. Die munisipale bestuurder, April Ntuli, het gister in die Vereenigingse Landdroshof verskyn op sewe aanklagte van waterbesoedeling en oortreding van omgewingswette. Gerda Senekal van die VF Plus sê die saak is tot September uitgestel nadat die Nasionale Vervolgingsgesag nog 66 aanklagte bygevoeg het:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 26 mense is dood en 61 beseer in ʼn ontploffing by ʼn vuurwerke-fabriek in die Hunan-provinsie in China. Owerhede sê twee skure met buskruit naby die Huasheng-fabriek het ʼn gevaarlike situasie geskep. Soek-en-reddingsoperasies is byna afgehandel, maar die bevestiging van ongevalle en die uitkenning van slagoffers is nog aan die gang. President Xi Jinping vra die owerhede om die oorsaak vinnig te ondersoek en seker te maak die skuldiges word aanspreeklik gehou.
# Gholf: Die Italianer Andrea Pavan hoop om mettertyd terug te keer nadat hy in Februarie veelvuldige beserings opgedoen het in ‘n fratsongeluk in Suid-Afrika. Hy was in Stellenbosch om aan die Suid-Afrikaanse Ope deel te neem, en het die dag voor die toernooi drie verdiepings ver in ‘n hysbakskag afgeval. Die 36-jarige het groot operasies ondergaan en moes weke lank in die land bly voordat hy kon terugkeer na sy huis in Texas, Amerika. Pavan sê dit kan nog maande duur, maar glo hy sal ten volle herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-872-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-552-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….