Nuus 12:00
BULLETIN 30 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema stel ‘n formele regseis van ‘n miljoen-rand in teen Ngizwe Mchunu
# Die Afrika-unie sê Suid-Afrika se uitsluiting van die G20 sal Afrika se stem in globale ekonomiese besprekings ondermyn
# En sokker: Afganistan se vrouespan keer terug na internasionale deelname na vyf jaar
# Die EFF-leier, Julius Malema, se regspan het ‘n formele regseis teen die radiopersoonlikheid Ngizwe Mchunu uitgereik rakende uitlatings tydens ‘n onderhoud Dinsdag. Hulle sê Mchunu het sonder bewyse beweer Malema het 60-miljoen-rand van Nigeriese dwelmhandelaars ontvang, dat hy betrokke is by die beskerming van onwettige immigrante vir politieke gewin en by korrupte en misdadige optrede. Die regspan sê die opmerkings is onwaar, kwaadwillig en skadelik. Hul eis binne 24-uur ‘n herroeping, ‘n openbare verskoning, ‘n nuusverklaring en skadevergoeding van ‘n miljoen-rand, of moontlike regstappe kan volg.
# Die Wes-Kaapse premier se Koördineringsforum verwelkom die sterk gereedheidsvlak om enige moontlike onderbrekings in brandstofverskaffing te hanteer weens die voortgesette konflik in die Midde-Ooste. Die nasionale regering het die tydelike brandstofheffing-verligting tot Junie verleng om verbruikers te ondersteun. Premier Alan Winde sê hoewel daar nog nie enige ontwrigting was wat die provinsie geraak het nie, bly die gebeurlikheidsplan staan:
# Die Vryemarkstigting waarsku binnelandse beleidskeuses ondermyn beleggersvertroue. Die stigting beklemtoon die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging as beleide wat regulatoriese onsekerheid skep en buigsaamheid in sake beperk. Die stigting sê wanneer ondernemings onderhewig is aan veranderende beleide, streng voldoeningsvereistes en toenemende verpligtinge, neem die vertroue af. Hy voeg by Suid-Afrika kan nie verwag om betekenisvolle beleggings te lok terwyl die einste voorwaardes wat beleggings moontlik maak ondermyn word nie.
# Die voorsitter van die Afrika-unie-kommissie, Mahmoud Ali Youssouf, sê dis betreurenswaardig dat Amerika Suid-Afrika van die G20 uitsluit. Amerika het die G20 se presidentskap vanjaar by Suid-Afrika oorgeneem. Youssouf sê Suid-Afrika se uitsluiting van Desember se G20-leiersberaad in Miami ondermyn Afrika se stem in die wêreld se ekonomiese besprekings en neem die fokus weg van die vasteland:
# Sokker: Afganistan se vrouespan word toegelaat om terug te keer na internasionale deelname nadat hulle vyf jaar laas amptelik gespeel het. Beperkings is op vroueregte ingestel nadat die Taliban in 2021 weer die bewind oorgeneem het, insluitend ‘n verbod op sport. Dit het baie vroue gedwing om die land te verlaat. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het Afganistan amptelik erken ingevolge ‘n wysiging wat die registrasie van ‘n verteenwoordigende span onder uitsonderlike omstandighede toelaat, indien dit nie deur sy lidvereniging erken word nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-57-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-617-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….