Nuus 12:00
BULLETIN 28 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube vra die Tesourie om moontlike onreëlmatighede met handboekaankope te ondersoek
# Iran beskuldig Amerika en Israel van die ontwrigting van maritieme veiligheid
# En Mimi Coertse sterf in die ouderdom van 93
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die Nasionale Tesourie gevra om moontlike onreëlmatighede met die aankoop van grondslagfase-handboeke te ondersoek. Volgens News24 is Lighthouse Publishers geregistreer drie dae nadat die opdrag vir die nasionale katalogus uitgereik is. Dit het 26-persent van die algehele goedkeurings vir die uitgee van handboeke ontvang en sal na verwagting meer as 285-miljoen-rand verdien. Woordvoerder Lukhanyo Vangqa sê die Tesourie is aanspreeklik vir verkrygingsnakoming:
# Forum for South Africa sê die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, se onttrekking van die Nasionale Kunsmatige Intelligensie-konsepbeleid ontbloot ‘n kommerwekkende mislukking in die departement. Die dokument bevat vals verwysings. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dis veral ontstellend dat ʼn dokument van groot nasionale belang deur vele vlakke van opstelling en gehalteversekering kan gaan sonder dat sulke opsigtelike foute raakgesien word:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, sê Amerika en sy ondersteuners is aanspreeklik vir alle ontwrigting van maritieme vervoer. Die VN se Veiligheidsraad het debat gevoer oor die veiligheid en beskerming van waterweë te midde van ontwrigting in die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes. Iravani sê Amerika en Israel voer sedert 28 Februarie ‘n aggressiewe oorlog teen Iran wat die VN‑handves oortree, maritieme veiligheid ontwrig en streeksvrede bedreig:
# Tennis: Die Brit Cameron Norrie word nie veel van ‘n kans gegun wanneer hy vandag die eerste keer in sy loopbaan teen die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, speel nie. Hulle bots in die ronde van 16 op die Madridse Ope, waar die Italianer probeer om die eerste man te word om vyf agtereenvolgende Meesters-een-duisend-toernooie te wen. Die wêreld-nommer-23 hoop om die kwarteindronde die eerste keer te bereik. Norrie sê Sinner gaan ‘n moeilike teenstander wees, maar hy moet net op sy eie spel konsentreer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-882-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-620-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: Die beroemde Suid-Afrikaanse opera-sopraan Mimi Coertse het in die ouderdom van 93 gesterf. Sy het haar Suid‑Afrikaanse buiging in 1951 gemaak in die Messias van Handel in die Johannesburgse Stadsaal en twee jaar later die land verlaat. Sy het uiteindelik in Wenen, Oostenryk, beland, waar sy internasionale erkenning verwerf het met verskynings in operas soos Die Towerfluit van Mozart, Rigoletto van Verdi en Carmen van Bizet. Coertse het in 1973 teruggekeer na Suid-Afrika en ‘n radio‑ en televisiepersoonlikheid geword. Sy is in haar huis in Pretoria dood.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….