Nuus 12:00
BULLETIN 24 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA sê daar moes ’n amptelike ondersoek na Fannie Masemola se bevoegdheid vir sy amp gewees het
# Die Departement van Basiese Onderwys sê skole is nie van Dinsdag tot Donderdag volgende week gesluit nie
# En sokker: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur neem 16 ondersteuners na die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika
# Forum for South Africa verwelkom die voorlopige skorsing van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die skorsing moes lankal plaasgevind het, maar dis net ‘n minimale reaksie op ʼn verdiepende krisis in die leierskap van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy sê president Cyril Ramaphosa moet veroordeel word omdat hy nie ʼn amptelike ondersoek na Masemola se bevoegdheid vir die amp ingestel het nie:
# Business Leadership South Africa se jongste hervormings-aanwyser wys die strukturele hervormingsagenda wat deur Operasie Vulindlela aangevuur word, lewer meetbare vordering. Die algehele voltooiings-aanwyser het sedert Maart 2024 met 27-persent geklim tot 71,75. Operasie Vulindlela se jongste verslag toon 67-persent van die vordering is op koers, sewe-persent is afgehandel, ses-persent het groot probleme en 20-persent word vertraag. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, waarsku die vordering kan deur stelsel-weerstand vertraag word.
# Die Departement van Basiese Onderwys sê vals inligting word op sosiale media-platforms versprei dat staatskole van Dinsdag tot Donderdag volgende week gesluit is. Volgens die amptelik-goedgekeurde skoolprogram vir 2026, gaan onderrig gewoonweg voort. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê die verspreiding van verkeerde inligting ondermyn doeltreffende beplanning en kan ʼn negatiewe uitwerking hê op skoolbywoning en leeruitkomste:
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige president van die Filippyne, Rodrigo Duterte, gaan in die Internasionale Strafhof verhoor word. Regters het aanklagte van misdade teen die mensdom bevestig oor die dodelike onderdrukking van dwelmhandel terwyl hy in die amp was. ‘n Paneel van drie regters het bevind aanklaers, polisie en lede van ‘n moordbende het sedert 2011 moorde op Duterte se versoek uitgevoer, gemotiveer deur die belofte van geld of om te verhoed dat hulle self teikens word. Meer as ses-duisend mense is vermoedelik dood. ‘n Verhoordatum is nog nie vasgestel nie.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê 16 super-ondersteuners sal ‘n ten volle betaalde reis wen om Bafana Bafana te ondersteun op die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. ‘n Paneel van kundiges in Suid-Afrikaanse sport en vermaak, onder meer Robert Marawa en Andile Ncube, sal een gelukkige ondersteuner uit elke Premierliga-sokkerklub kies. McKenzie sê die departement het borgskappe van twee groot maatskappye bekom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-942-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-691-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….