Nuus 12:00
BULLETIN 21 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika wissel sy brandstofinvoere af te midde van ontwrigtings in die Seestraat van Hormoes
# Die veesektor waarsku oor ‘n dreigende krisis met ‘n onvoldoende bek-en-klouseer-inentingsplan
# En ‘n brand rig skade aan in die Laer Sabie-ruskamp in die Krugerwildtuin
# Die Brandstofnywerheidsvereniging van Suid-Afrika sê die land is besig om brandstofinvoere weg van die Golf te verskuif weens die ontwrigting in die Seestraat van Hormoes. Die skeepskanaal dra sowat ‘n vyfde van die wêreld se olievervoer. Die vereniging se uitvoerende hoof, Avhapfani Tshifularo, sê die plaaslike brandstofnywerheid het gekoördineerde, korttermyn beveiligingsmaatreels vir olievoorsiening ingestel wat fokus op afwisseling en voorraadbestuur. Dit sluit in streng daaglikse voorraadmonitering en skeepsbewegings, en vermeerdering van verskepings uit bronne in Wes-Afrika, die Atlantiese Kom en Asië.
# Foot and Mouth Disease Response South Africa vra dringende betrokkenheid deur die privaat sektor om te help met die verkryging en verspreiding van die 14-miljoen entstofdosisse om die bek-en-klouseer-uitbreking te bekamp. Woordvoerder Andrew Morphew waarsku die regering se plan om 80-persent van die beeskudde binne ‘n jaar in te ent, is te stadig en burokrasie en gesentraliseerde beheer vertraag vordering. Hy sê stadige optrede kan tot groot finansiële verliese lei:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die volgehoue en duur voortslepende voorsorg-skorsings in die Staatsdiens. Die regering het vanaf die 2021/22-boekjaar tot 2025/26 meer as ‘n miljard-rand bestee aan salarisse en voordele van werknemers in die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings wat op betaalde voorsorg-skorsing geplaas is. Claude Naicker van die vakbond sê voorsorgmaatreëls moet ‘n tydelike administratiewe maatreël wees, nie ‘n langtermynreëling nie:
# ‘n Brand het vroeg vanoggend in die Laer Sabie-ruskamp in die Krugerwildtuin uitgebreek en die winkel- en restaurant beskadig. Veldwagters en personeel het vinnig opgetree en die brand onder beheer gebring voor dit verder kon versprei. Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak word ondersoek. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die restaurant en ontvangsgebied is tans gesluit terwyl veiligheid bepaal word en die herstelwerk voortduur.
# Rugby: ‘n Besering het die Junior Springbokke gedwing om ‘n verandering aan te bring aan hul span vir die Onder 20-Rugbykampioenskap wat Maandag in Gqeberha in die Oos-Kaap begin. Die ervare haker Siphosethu Mnebelele het verlede week in Stellenbosch sy enkel beseer en word vervang deur Mahle Sithole. Hoofafrigter Kevin Foote sê dis jammer Mnebelele is beseer, maar dit gee Sithole kans om te wys waartoe hy in staat is. Suid-Afrika se veldtog skop af teen Argentinië, gevolg deur Australië op 3 Mei en Nieu-Seeland op 9 Mei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-274-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-787-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….