Nuus 12:00
BULLETIN 20 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA sê Julius Mkwanazi se inhegtenisneming wys op die verrotting in wetstoepassings-instellings
# Die polisie ondersoek ‘n noodlottige skietery in Emmarentia ná ‘n padwoede-voorval
# En Australië se mees-vereerde lewende soldaat beveg die aanklagte van oorlogmisdade teen hom
# Forum for South Africa sê die inhegtenisneming van die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, is ‘n blootlegging van hoe diep verrot die land se wetstoepassings-instellings geword het. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die gebeure herstel nie ‘n stelsel wat toegelaat is om te verval onder swak leierskap en politieke beskerming nie. Hy sê hulle verwerp enige poging om die inhegtenisneming as ‘n openbare betrekkinge-oefening te gebruik:
# Die Gautengse polisie ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord ná ‘n beweerde padwoede-voorval in Emmarentia, Johannesburg. Twee mans het na bewering handgemeen geraak, waarna ‘n skietery plaasgevind het. Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê een man is op die toneel dood en die ander een het geringe beserings opgedoen. Sy sê ‘n vroue-passasier is ook gewond en hospitaal toe geneem:
# Opruimingsoperasies gaan voort in verskeie gebiede in die Wes-Kaap ná die naweek se oorstromings. Nood- en munisipale spanne ruim die puin op, bepaal die skade en bied verligting aan inwoners. Gift of the Givers se woordvoerder, Ali Sablay, sê die fokus is op die herstel van toegang, sanitasie en noodsaaklike dienste terwyl verdere weergevare dopgehou word. Hy sê gemeenskappe in laagliggende en hoërisikogebiede is die hardste getref, met ontwortelde inwoners in informele nedersettings wat tydelike hulp ontvang terwyl die herstelpogings voortduur.
Nuus uit die buiteland:
# Die mees vereerde lewende Australiese soldaat, Ben Roberts-Smith, sê hy sal tot die bittereinde veg teen vyf aanklagte van oorlogsmisdade en herhaal hy is onskuldig. Die 47-jarige word daarvan beskuldig dat hy ongewapende burgerlikes vermoor of ondergeskiktes beveel het om hulle te vermoor tydens sy diens vir die Australiese SAS in Afganistan tussen 2009 en 2012. Roberts-Smith sê hy gaan die hofsaak gebruik om sy naam in ere te herstel:
# Rugby: Die afrigter van die Springbok Vroue-sewesspan, Cecil Afrika, sê heelwat lesse kan geleer word uit hul vertonings in Hongkong in die eerste van drie Wêreldkampioenskaps-toernooie. Die span het in hulle groepswedstryde teen Australië en Kandada verloor en vir Groot-Brittanje geklop. Hull het daarna teen die Britte vasgeval in die uitspeelstryd om negende plek en 12de geëindig toe hulle teen Argentinië verloor het. Afrika sê baie harde werk lê voor vir die toernooie in Spanje en Frankryk in Mei en Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-987-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-788-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….