Nuus 12:00
BULLETIN 14 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie mense is op teregstellingstyl doodgeskiet in Guguletu, Kaapstad
# Johannesburg teiken verdagte eiendomseienaars in ‘n groot klopjag in Ormonde
# En krieket: Tebogo Macheke word die eerste keer opgeroep vir die Protea-vrouespan vir die T20-reeks teen Indië
# Die Kaapstadse polisie ondersoek die moord op drie mense wat vermoedelik op teregstellingstyl in Gugutlethu vermoor is. Woordvoerder Andrè Traut sê beamptes het reageer op ‘n klagte in Nontulostraat, waar hulle in ‘n huis op die liggame van ‘n man en ‘n vrou afgekom het. Albei het veelvuldige skietwonde aan die kop en bolyf gehad. Nog ‘n man se liggaam is buite gevind met ‘n skietwond aan die agterkant van sy kop. Traut sê die motief vir die skietery is tans onbekend.
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, word beskuldig dat sy luukse geskenkte Chinese sportnutsvoertuie aan haar familie gegee het sonder om dit as persoonlike geskenke te verklaar. Volgens Daily Maverick het Ramokgopa in 2023 na bewering drie BAIC X55’s aanvaar wat bedoel was as skenkings aan die ANC-Vroueliga. Die motors kos ongeveer 500-duisend-rand elk. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, word van dieselfde optrede beskuldig. Ramokgopa ontken die bewerings. Die ANC en die Vroueliga sê albei hulle dra geen kennis van hierdie skenking nie.
# Die Stad Johannesburg sê hy het sy wetstoepassing in Ormonde opgeskerp na die gebou-instorting wat die lewens van nege mense geëis het. Voorlopige bevindinge het wydverspreide nie-nakoming by meer as 30 eiendomme in die gebied aan die lig gebring, wat hotelle, kantoorparke en woongeboue insluit. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê drie eiendomme wat besoek is, skuld Johannesburg sowat 19,5-miljoen-rand:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Sekretaris-generaal, António Guterres, sê daar is geen militêre oplossing vir gevegte in die Midde-Ooste nie en Amerika en Iran moet voortgaan met vredes-onderhandelings. Pakistan het die naweek samesprekings in Islamabad aangebied, maar dit het in ‘n dooiepunt geëindig. Die VN se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê Guterres beklemtoon alle betrokkenes moet die reg tot skeepsvaart respekteer, insluitend in die Seestraat van Hormoes, in ooreenstemming met internasionale reg:
# Krieket: Die Titans se paaltjiewagter, Tebogo Macheke, is die eerste keer opgeroep na die Protea-vrouegroep vir die reeks van vyf T20s teen Indië. Sy vervang die beseerde Karabo Meso. Die veelsydige Titans-speler, Eliz-Mari Marx, sal die naatbouler Masabata Klaas vervang. Anneke Bosch behou haar plek nadat sy die beseerde Dané van Niekerk in die T20-reeks teen Nieu-Seeland vervang het. Die eerste wedstryd vind Vrydag in Durban plaas. Die reeks is die laaste voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat in Junie en Julie in Engeland plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-572-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-783-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….