Nuus 12:00
BULLETIN 13 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana en die president van die Reserwebank is nie geakkrediteer om die G20 se finansiële vergaderings by te woon nie
# Honderd-89 skole in Ekurhuleni se kragtoevoer is afgesny weens onbetaalde munisipale rekeninge
# En rugby: Twee bekende Springbok-vrouesewesspelers word opgeroep vir Hongkong
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, is nie geakkrediteer om die komende vergadering van die G20-lande se finansiële hoofde in Washington by te woon nie. Amerika het die G20 se jaarlikse roterende presidentskap in November by Suid-Afrika oorgeneem. Godongwana het aan Bloomberg gesê Suid-Afrika sal hierdie hele jaar nie deel wees van die G20 nie. President Donald Trump het Suid-Afrika reeds verbied om later vanjaar die G20-beraad in Miami by te woon.
# Die Vryheidsfront Plus het Geordin Hill-Lewis gelukgewens met sy verkiesing as federale leier van die DA. Die party sê hy bly ten volle verbind tot samewerking met politieke partye wat Suid-Afrika wil verbeter. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê dit sluit partye in wat bereid is om saam te werk om die uitgediende en mislukte ideologie‑gedrewe beleidsrigtings van die ANC, die MK‑party en die EFF aktief teen te staan, en is gewillig om koalisies te sluit wat hierdie groeperings eerder beperk, as om hulle te bevorder.
# Minstens 189 skole in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand onvervind kragafsnydings weens hulle skuld aan die munisipaliteit wat meer as 110-miljoen-rand oorskry. Die afsnyding is deel van die metro se kredietbeheerveldtog wat onbetaalde rekeninge teiken. Die provinsiale Onderwysdepartement sê befondsing is toegeken, terwyl skole rekeningkundige geskille en koördineringsfoute opper. Onderrig, eksamens en administrasie word ontwrig, met sommige skole wat weke lank sonder krag gelaat is. Die metro se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê die betrokke skole verander daagliks soos hulle betalings ontvang en kredietbeheer afdwing.
Die DA in Gauteng rig intussen ‘n waarskuwing oor ‘n ongelyke agtergrond-ondersoekstelsel en waarsku dit stel leerders in gevaar. Die party sê hoewel die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, stappe uiteensit om voorsorgmaatreëls te verbeter, is daar steeds gapings tussen departemente. Die DA-lid, Michael Waters, vra ‘n verenigde, digitale ondersoekstelsel en ‘n tussenministeriële taakspan. Hy sê ondanks bestaande wette, werk mense sonder behoorlike klaring steeds met kinders:
# Rugby: Twee Springbok-vrouesewesspelers, Zintle Mpupha en Eloise Webb, is na die groep teruggeroep vir die eerste Sewes-wêreldkampioenskaptoernooi, wat hierdie naweek in Hongkong gespeel word. Mpupha het in Januarie vir die nasionale groep uitgedraf, terwyl Webb die span laas in 2024 verteenwoordig het. Die afrigter, Cecil Afrika, het ook die nuwelinge Jané Mulder en Owami Mohuli by die groep ingesluit. Mpupha sê die senior spelers is gereed om nog ‘n tree vorentoe te gee:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-814-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-732-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….