Nuus 12:00
BULLETIN 2 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen beklemtoon waaksaamheid en gedeelde verantwoordelikheid teen bek-en-klouseer
# Die N3-tolkonsessie sê die bestuur van risiko’s is die sleutel tot padveiligheid hierdie Paasnaweek
# En motorsport: Die F1-Akademie vervang die Saoedi-ronde met ekstra wedrenne in Montreal en Austin
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, vra die landbousektor om te verenig in die stryd teen bek-en-klouseer, en beklemtoon biosekerheid is almal se verantwoordelikheid. Hy sê ook die beskerming van vee beskerm voortbestaan en nasionale voedselsekerheid. Steenhuisen versoek boere en belanghebbendes om hierdie Paasfees waaksaam te bly en met gedeelde verantwoordelikheid te lei om die sektor te beskerm en die toekoms van landbou te verseker:
Steenhuisen verwelkom intussen die vrystelling van 20-duisend dosisse plaaslik-vervaardigde entstof deur die Landbounavorsingsraad. Dit sal voortgesette inentings ondersteun en dieregesondheid versterk. Steenhuisen sê die raad sal mettertyd die afhanklikheid van invoere verminder en die volhoubaarheid van entstofvoorraad verseker in ooreenstemming met die nasionale siektebestuurstrategie. Hy sê die regering doen alles moontlik om te verseker dat daar genoeg entstof is om die teiken van 80-persent teen die einde van die jaar te bereik.
# Die N3-tolkonsessie moedig motoriste aan om ‘n risikobestuursbenadering tot padveiligheid te volg, met die Paasnaweek wat nader kom en verkeerstoestande op die N3-tolroete besiger word. Hoë verkeersvolumes tussen Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal sal na verwagting vanmiddag begin toeneem. Hoofbedryfsbeampte Thania Dhoogra sê padgebruikers word aangeraai om hul reise noukeurig te beplan en voorbereid te wees op enige gebeurlikheid, veral gedurende spitstye:
Nuus uit die buiteland:
# Een persoon is dood nadat ‘n aardbewing met ‘n sterkte van 7,4 die Indonesiese eiland Ternate vandag getref en klein tsoenami-golwe veroorsaak het. Die slagoffer, geïdentifiseer as ‘n 70-jarige vrou, is dood toe sy in Noord-Sulawesi onder bourommel vasgeval het. Minstens twee naskokke het gevolg met sterktes van 5,5 en 5,2, en owerhede het gewaarsku nog kan volg. Tsoenami-waarskuwings is uitgereik vir Japan, Maleisië, Papoea-Nieu-Guinee, die Filippyne en Taiwan, maar is sedertdien opgehef.
# Motorsport: Die F1-Akademie, wat net uit vroue bestaan, het wedrenne in Montreal, Kanada, en Austin in Texas bygevoeg om te vergoed vir die afstelling van die Saoedi-Arabiese wedrenne. Die hersiene program verseker dat die reeks steeds bestaan uit 14 wedrenne oor ses rondes in vyf lande. F1 het hierdie maand se wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië afgestel weens die konflik in die Midde-Ooste. Die akademie is ook besig om sy naweek-wedrenstruktuur op te knap met die instelling van ‘n splinternuwe formaat van drie rondes by sekere geleenthede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-606-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-636-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….