Nuus 12:00
BULLETIN 1 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nkabinde-ondersoek verdaag vir Paasnaweek
# Krieket: Nieu-Seeland se vrouespan haal ‘n rekord-teiken om Suid-Afrika in die tweede eendagwedstryd te klop
# En die meerderheid Amerikaners wil hê die oorlog teen Iran moet vinnig eindig
# Die Nkabinde-kommissie wat ondersoek instel na die geskorste Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se bevoegdheid om sy amp te beklee, het vir die Paas-reses verdaag. Chauke het gister sy besluit verdedig om die moord-aanklag teen die gewese hoof van Misdaadintelligensie, Richard Mdluli, terug te trek. Die kommissie se woordvoerder, Tiyisela Mpuzana, sê die sitting sal volgende Woensdag hervat word wanneer bykomende getuies na verwagting geroep sal word:
# Die Outomobiel-assosiasie verwelkom die tydelike verlaging van drie-rand per liter in die algemene brandstofheffing om die gevolge van stygende brandstofpryse te versag. Daar word geraam dat die verlaging sal lei tot ‘n verlies van sowat ses-miljard-rand se belasting-inkomste. Die AA se uitvoerende hoof, Bobby Ramagwede, sê hulle sal steeds voorspraak maak dat die verligting verleng word en sê die regering se grootse probleem is nie inkomste-insameling nie, maar uitgawe-bestuur.
Intussen sê die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, hulle is besig om die brandstofprys-vasstelling oor die medium termyn te hersien. Die toenemende konflik in die Midde-Ooste het risiko’s op die wêreld se energiemarkte vergroot en plaas groot druk op plaaslike brandstofpryse. Mantashe het aan die SABC gesê die regering probeer ekonomiese volhoubaarheid met die beskerming van verbruikers balanseer:
# Krieket: Nieu-Seeland se vrouespan het ‘n wêreldrekord-lopieteiken gehaal om Suid-Afrika met twee paaltjies te klop in die tweede van drie eendagwedstryde in Wellington. Die Proteas het 346 vir ses aangeteken met Anneke Bosch wat 91 van 90 balle aangeteken het. Die gasvroue se kaptein, Amelia Kerr, het daarna ʼn onoorwonne 179 van 139 balle gemoker om die White Ferns na oorwinning te lei met twee balle oor. Dis die hoogste suksesvolle lopie-jaagtog in die geskiedenis van vroue-eendagkrieket. Die beslissende wedstryd vind Saterdag plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-580-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-729-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Ses-en-sestig-persent Amerikaners sê Amerika moet probeer om sy betrokkenheid in Iran so gou as moontlik te beëindig, selfs al bereik hy nie al sy doelwitte nie. ʼn Peiling van Reuters/Ipsos het ook bevind 27-persent deelnemers sê alle doelwitte moet bereik word, selfs al duur die oorlog langer. Sestig-persent van Amerikaners is gekant teen die Weermag se aanvalle op Iran en 35-persent keur dit goed. Ipsos sê die opname toon die nadele van die konflik se risiko’s staan vir die publiek meer uit as die moontlike voordele.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….