Nuus 12:00
BULLETIN 18 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa wens die mediese span geluk met die suksesvolle skeiding van ‘n Siamese tweeling in Limpopo
# Checkers se Sixty60-advertensie word misleidend bevind
# En gholf: Louis Oosthuizen plaas nie druk op sy span vir die eerste LIV-toernooi in Afrika nie
# President Cyril Ramaphosa het die mediese span geluk gewens wat ‘n Siamese tweeling van mekaar geskei het in die Mankweng-hospitaal naby Polokwane in Limpopo. Die identiese tweeling, gebore op 28 Januarie, was aan die buik verbind en het ‘n lewer en ander lewensbelangrike organe gedeel. Die delikate operasie van sewe-uur is gelei deur professor Nyaweleni Tshifularo. Ramaphosa sê dis ‘n geskiedkundige oomblik vir Limpopo en Suid-Afrika se openbare gesondheidsorgsektor:
# Die Madlanga-kommissie het gelas Getuie G sal om veiligheidsredes agter geslote deure getuig. Die misdaadintelligensie-amptenaar betrokke by hoërisiko-geheime operasies se regsverteenwoordiger, Tshepo Matlala, het gevare vir hom en informante aangehaal. Hy was blykbaar die hanteerder van die omstrede informant Brown Mogotsi. Getuie G het ook tegnologie aangevra wat stemme verbloem. Getuienisleier Matthew Chaskalson ondersteun die versoek vir getuienis agter geslote deure, maar dui op beperkings in tegnologie om ‘n stem te verander.
# Die Advertensiereguleringsraad het beslis ‘n advertensie vir Checkers se kruideniersware-afleweringsdiens, Sixty60, is misleidend. Die advertensie wys ‘n helikopter met die Sixty60-handelsmerk daarop wat kruideniersware aan twee mans aflewer op ‘n huisboot aan die Weskus. Die raad sê die advertensie skep die verkeerde indruk van die diens se afleweringsvermoëns. Checkers het aangevoer die advertensie was nie daarop gemik om Sixty60 se werklike afleweringsmetodes of geografiese dekking voor te stel nie, maar eerder om die handelsmerk se speelse, ambisieuse toon oor te dra.
# Die DA vra die minister van Minerale en Petroleum-hulpbronne, Gwede Mantashe, om deursigtig te wees oor Suid-Afrika se brandstofreserwes. Hy het die land Maandag verseker dat daar nie paniek hoef te wees oor moontlike brandstoftekorte weens die konflik in die Midde-Ooste nie. James Lorimer van die DA sê volgens wet moet daar te alle tye twee maande se voorraad in reserwe wees:
# Gholf: Kaptein Louis Oosthuizen plaas nie onnodige druk op homself of enige van sy Southern Guards GC-spanmaats wanneer ‘n LIV-gholftoernooi hierdie week die heel eerste keer in Suid-Afrika plaasvind nie. Meer as 90-duisend toeskouers sal van môre tot Sondag die toernooi in Steyn City in Johannesburg bywoon. Die Suid-Afrikaners Charl Schwartzel, Dean Burmester en Branden Grace is ook in die span. Oosthuizen sê hulle wil hulle tuisvoordeel laat geld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-20-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-989-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….