Nuus 12:00
BULLETIN 17 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Morgan Stanley voorspel dat Suid-Afrika se rentekoerse onveranderd sal bly
# AfriForum en die gemeenskap verwerp ‘n nuwe mynbou-aansoek naby die Krugerwildtuin
# En krieket: Die Protea-vroue verslaan Nieu-Seeland in die tweede T20 en maak die reeks gelykop
# ‘n Ekonoom van Morgan Stanley glo stygende oliepryse weens die konflik in die Midde-Ooste gaan Suid-Afrika se inflasiekoers verhoog en beleidmakers dwing om rentekoerse maande lank onveranderd te laat. Andrea Masia voorspel die Reserwebank gaan die terugkoopkoers volgende week 6,75-persent hou nadat vroeër gehoop is dit sou daal. Hy sê die bank sal dit waarskynlik heel jaar onveranderd laat en moontlik eers in November ʼn daling aankondig. Petrolpryse sal na verwagting volgende maand met vier-rand per liter styg en diesel met tot sewe-rand.
‘n Ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê intussen die toenemende konflik veroorsaak internasionale oliepryse van meer as 100-dollar per vat en dit kan selfs verder styg. Hy sê Suid-Afrika is ‘n olie-afhanklike ekonomie en kan hoër vervoer- en voorsieningskoste, stygende brandstof- en kunsmispryse, en druk op inflasie en groei verwag. Parsons glo gekoördineerde regeringsoptrede, duidelike kommunikasie en geteikende maatreëls kan huishoudings en ondernemings teen die uitwerking beskerm:
# AfriForum, plaaslike inwoners en belanghebbendes het ‘n nuwe aansoek verwerp om ‘n steenkoolmyn naby die suidelike grens van die Krugerwildtuin te ontwikkel. Die Tenbosch Mining-Manzolwandle Investments ondergrondse myn teiken ‘n gebied van 18-duisend hektaar, wat verwerkingsaanlegte, voorraadophopings- en waterbehandelingsinfrastruktuur sal insluit. Lambert de Klerk van AfriForum waarsku oor onherroeplike skade aan die omgewing, veral die Krokodilrivier, asook aan watersekerheid, landbou en toerisme in Mpumalanga:
Nuus uit die buiteland:
# Die Namibiese Lughawensmaatskappy het ʼn ondersoek begin na ʼn kubersekerheidsvoorval wat op sy netwerk-infrastruktuur en administratiewe rekeninge gemik was. Volgens ʼn verklaring is ongemagtigde toegang verkry tot spesifieke IT-stelsels wat tot die onmiddellike aktivering van beperkingsprotokolle gelei het. Die maatskappy se woordvoerder, Dan Kamati, sê daar is geen bewys dat data onttrek is nie, maar ondersoeke sal die presiese omvang van die voorval bepaal:
# Krieket: Die Protea-vroue het Nieu-Seeland in Hamilton met 18 lopies verslaan om die reeks van vyf T20s gelykop te maak. Tazmin Brits het 53 gemoker, kaptein Laura Wolvaardt ʼn onoorwonne 41 en Kayla Reyneke ‘n blitsige 28 van net nege balle, en die besoekers het 177 vir vyf aangeteken. Ayabonga Khaka het daarna vier paaltjies laat kantel en Nonkululeko Mlaba drie, en die tuisspan is uitgeboul vir 159. Nieu-Seeland het die eerste wedstryd met 80 lopies gewen. Die derde T20 vind Vrydag in Auckland plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-375-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-26-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….