Nuus 12:00
BULLETIN 16 March 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid staak bedrywighede by twee grensposte weens oorstromings
# Clicks se mieliepoffers word herroep oor listeria-besmetting
# En motorsport: Die Katarse MotoGP is herskeduleer weens die konflik in die Midde-Ooste
# Die Grensbestuursowerheid het bedrywighede by die Pafuri- en die Giriyondo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek tydelik opgeskort weens oorstromings. Pafuri is in die verre noordelike streek van die Krugerwildtuin, met Giriyondo in ‘n belangrike deel van die Groot Limpopo-oorgrenspark, wat oor Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe strek. Mmemme Mogotsi van die owerheid sê geen beserings of skade aan infrastruktuur is aangemeld nie:
Limpopo se Onderwysdepartement sê intussen onderrig is tydelik opgeskort in verskeie distrikte as voorsorgmaatreël na aanhoudende swaar reën en die moontlikheid van kitsvloede. Die Vhembe- en die Mopani-distrik word die swaarste getref, met talle paaie wat onbegaanbaar is en toegang tot skole afsny. Die departement se woordvoerder, Mike Maringa, sê die Capricorn-Suid- en die Waterberg-distrik het ook voorvalle en strukturele probleme aangemeld, wat onderrig verder kan ontwrig:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het aangekondig dat Clicks se 12-gram Made for Tots Corn Puffs Chicken herroep is. Dit volg na ‘n verslag deur die kleinhandelgroep dat ‘n besending positief getoets het vir nie-patogene listeria. Sowat eenduisend-152 eenhede is geraak, met 348 wat aan verbruikers verkoop en 804 wat van rakke verwyder is. Woordvoerder Phetho Ntaba sê die betrokke produkte is versprei na Clicks-winkels en aanlyn in Suid-Afrika en Lesotho:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie verhoog noodbefondsing aan lande wat deur die konflik in die Midde-Ooste geraak word, en het 33,65-miljoen-rand vrygestel om gesondheidsreaksie in Libanon, Irak en Sirië te ondersteun. Hierdie maand was daar 27 aanvalle op gesondheidsorg In Libanon, wat tot minstens 30 sterftes gelei het. Gesondheidsdienste in Irak ondervind toenemende druk, veral hospitale naby aanvalsgebiede. Meer as 104-duisend-300 ontwortelde mense het van Sirië na Libanon gevlug. Die WGO sê die fondse sal help om noodkoördinering, traumasorg en siekte-monitering te versterk en toegang tot noodsaaklike medisyne te verseker.
MotoGP het intussen bevestig dat die Katarse Grand Prix, wat oorspronklik volgende maand sou plaasvind, tot 8 November uitgestel is weens die voortgesette geopolitieke situasie in die Midde-Ooste. Die Portugese Grand Prix sal nou op 22 November plaasvind, met die seisoen se laaste wedren in Valencia wat na 29 November skuif. MotoGP se uitvoerende hoof, Carmelo Ezpeleta, sê die besluit is hoofsaaklik geneem om die veiligheid, welstand en ‘n geleentheid van die allerbeste gehalte vir alle deelnemers en bywoners te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-493-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-1-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….