Nuus 12:00
BULLETIN 12 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse polisie ondersoek ‘n driedubbele taxi-verwante moord in Delft
# Die VN-Veiligheidsraad aanvaar ‘n voorstel om Iran se aanvalle op sy buurlande in die Golf te veroordeel
# En rugby: Oscar Jegou van Frankryk is vir vier wedstryde geskors na ‘n oogkrap-voorval teen Skotland
# Drie mense is vanoggend doodgeskiet in ‘n vermeende taxi-verwante voorval in Delft, Kaapstad. Die polisie sê ‘n minibus het by ‘n taxistaanplek in Hoofweg, Voorburg, stilgehou en insittendes het van binne die voertuig begin losbrand en weggejaag. Twee mans van onderskeidelik 55- en 58-jaar oud, is op die toneel dood verklaar en ‘n derde slagoffer van 38-jaar oud, het in die hospitaal gesterf. Niemand is nog aangekeer nie.
# Die EFF het die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Supra Mahumapelo, gevra vir ‘n dringende spesiale vergadering oor die nuwe Amerikaanse ambassadeur in die land. Die party wil Leo Brent Bozell se opmerkings tydens die BizNews-konferensie bespreek. Hy het teenstand ontketen oor sy uitsprake rakende die land se buitelandse beleid en binnelandse wette. Die EFF sê Bozell se opmerkings is onvanpas vir ‘n diplomatieke verteenwoordiger en ondermyn Suid-Afrika se soewereiniteit.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die jongste ekonomiese syfers bewys weer Suid-Afrikaanse boere is ‘n hoeksteen van die land se ekonomiese bestendigheid, voedselsekerheid en ontwikkeling. Statistieke Suid-Afrika se jongste bruto plaaslike produk-syfers toon die landbou-, bosbou- en visvangsektor het verlede jaar met 17,4-persent gegroei teenoor 2024. Woordvoerder Caria van der Merwe, sê landbou het verreweg die sterkste groei in die primêre sektor van die ekonomie getoon:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het eenparig ’n voorstel aanvaar om ’n einde te maak aan Iran se aanvalle op sy buurlande in die Golf. Dit veroordeel Iran se onlangse missiel- en hommeltuigaanvalle op Bahrein, Koeweit, Oman, Katar, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Jordanië. Bahrein se VN-ambassadeur, Jamal Alrowaiei, sê die internasionale gemeenskap verwerp Iran se aanvalle op soewereine lande in ’n streek van strategiese belang vir die wêreldekonomie:
# Rugby: Die Franse flank Oscar Jegou is vir vier wedstryde geskors en sal Saterdag Les Bleus se laaste Sesnasies-wedstryd teen Engeland misloop. ’n Onafhanklike tugkomitee het bevind die 22-jarige speler het op roekelose wyse kontak gemaak met die Skotse plaasvervanger-haker Ewan Ashman se oë tydens verlede naweek se nederlaag van 50-40 in Edinburgh. Die komitee het Jegou vir ses wedstryde geskors, maar twee opgeskort danksy sy goeie tugrekord en die feit dat Ashman nie permanente beserings opgedoen het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-946-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-179-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….