Nuus 12:00
BULLETIN 9 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf mense is aangekeer vir die massaskietery in Marikana, Kaapstad
# ‘n Wes-Kaapse regter word gelas om ‘n staatswoning in Kaapstad te ontruim
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter is trots op die span se kliniese spel in Vancouver
# Die Wes-Kaapse polisie het vyf mense aangekeer na die naweek se massaskietery in die Marikana-informele nedersetting in Philippi-Oos, Kaapstad. Drie mans en ‘n vrou is Saterdag dood en een mens gewond in die voorval in Disaweg. Polisiewoordvoerder Novela Potelwa sê die vyf word aangekla van moord, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens:
Steeds in die Moederstad:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê ’n regter van die Wes-Kaapse Hooggeregshof, Daniel Thulare, het opdrag gekry om ’n staatswoning in Kaapstad te ontruim omdat hy nie meer vir die voordeel kwalifiseer nie. Hy moet die woning teen 15 April verlaat. Macpherson sê dis die departement se plig om seker te maak staatseiendom word streng gebruik ooreenkomstig wetlike en beleidsraamwerke:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Kletsrymer wat ‘n politikus geword het, die 35-jarige Balendra Shah, is op koers om Nepal se nuwe eerste minister te word terwyl sy Rastriya Swatantra-party ‘n twee-derde-meerderheid kan wen. Dis Nepal se eerste verkiesing nadat verlede jaar se jeuggeleide opstand die regering omver gewerp het. Die party het reeds 124 van die 165 regstreekse setels gewen, asook 58 van die 110 proporsionele setels. Balen, soos hy bekend staan, kan dus Nepal se jongste eerste minister ooit wees met ‘n party wat slegs vier jaar oud is.
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hy is trots op die span se kliniese spel teen Spanje in die eindstryd van die Kanadese wêreldreekstoernooi in Vancouver. Suid-Afrika het ses drieë gedruk en Spanje 38-12 verpletter. Dit was die Blitsbokke se derde titel in vyf toernooie in die huidige seisoen. Snyman sê hy is tevrede met die span se volgehoue spelpeil en die groep se diepte:
En geldsake:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê hy gaan die scenario’s vir sy volgende rentekoers-beleidsvergadering heroorweeg omdat die Midde-Oosterse konflik oliepryse opjaag. Die bank se president, Lesetja Kganyago, het aan Reuters gesê hulle het vooraf beraam die ergste situasie sou wees dat die gemiddelde olieprys vir die jaar tot 75-dollar per vat sou styg en die rand tot 18-rand-50-sent teen die dollar verswak. Hy sê hulle sal dit nou moet aanpas en die uitwerking van die geopolitieke situasie en wisselkoers in ag neem.
Die rand verhandel tans teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-631-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-95-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….