Nuus 12:00
BULLETIN 6 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die Khampepe-kommissie moet Mbeki en Zuma dagvaar om te getuig
# Nog twee moontlike gevalle van bek-en-klouseer is in die Tuinroete aangemeld
# En sokker: 2026 se Afrikabekertoernooi vir vroue word uitgestel
# Die GOOD-party vra die Khampepe-kommissie van ondersoek om oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma te dagvaar om getuienis af te lê. Die kommissie ondersoek beweerde pogings om vervolging van Waarheids- en Versoeningskommissie-sake te vertraag. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die getuienis van voormalige senior aanklaers skets ‘n verdoemende prentjie van politieke manipulering om ondersoeke na menseregteskendings tydens die apartheidsera te stop:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê nog twee moontlike bek-en-klouseergevalle moet in Mosselbaai bevestig word, wat die aantal toetse tot vyf opstoot. Die munisipaliteit het vyf bevestigde gevalle aangemeld en 74 plase se kuddes is ingeënt. Woordvoerder Herman Pieters sê dis belangrik om kennis te neem dat ’n ingeënte dier wat aan bek-en-klouseer blootgestel word, minder ernstig siek word, ligter kliniese simptome toon en gouer herstel:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, waarsku hoër oliepryse weens die Midde-Oosterse oorlog kan Suid-Afrika se inflasie laat styg en ekonomiese vooruitsigte raak. Die prys van Brent ru-olie het dié week met byna 16-persent gestyg omdat skeepsvervoer tot stilstand gekom het in die Straat van Hormuz, waardeur ‘n vyfde van die wêreld se olie vervoer word. Godongwana het aan Bloomberg Television gesê Suid-Afrika kan die uitwerking van die oorlog weerstaan:
President Volodimir Zelensky sê intussen Oekraïne het ‘n versoek van Amerika ontvang om Iranse hommeltuigaanvalle in die Midde-Ooste af te weer. Kiëf het tydens sy oorlog met Rusland ‘n reeks onderskeppers vir hommeltuie ontwikkel. Die toestelle is ontwerp om aanvalshommeltuie in die lug te tref. Zelensky sê hy het opdrag gegee dat die toerusting en Oekraïense kundiges voorsien moet word om die nodige veiligheid in die streek te waarborg. Hy sê ook hy sal verseker die verskaffing van hierdie bystand sal nie Oekraïne se eie verdediging verswak nie.
# Sokker: Die Afrika-beheerliggaam het 2026 se Afrikabekertoernooi vir vroue uitgestel, wat die 17de in Marokko sou afskop. Dit volg na weke se bespiegeling dat Marokko nie meer die toernooi wil aanbied nie. Die Konfederasie van Afrika-sokker sê die toernooi moes geherskeduleer word weens onvoorsiene omstandighede en om die sukses van hierdie belangrike vrouekompetisie te verseker. Die toernooi, wat ook dien as kwalifiseerder vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië, vind nou in Julie plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-960-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-112-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….