Nuus 12:00
BULLETIN 4 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê wêreldvrede word bedreig deur die militêre optrede teen Iran
# Krieket: Aiden Markram sê hulle is versigtig vir Nieu-Seeland in aanloop tot hul halfeindronde-kragmeting
# En: Saftu bring hulde aan ‘n veteraan van die bevrydingstryd, Mosiuoa Lekota
# COPE het Amerika en Israel se onlangse militêre aanvalle op Iran sterk veroordeel. Die party sê dit ondermyn brose diplomatieke pogings oor Iran se beweerde kernprogram met die gevaar om spanning reg oor die Midde-Ooste te verhoog, en burgerlike lewens en noodsaaklike infrastruktuur in gevaar te stel. Woordvoerder Teboho Loate vra die onmiddellike staking van vyandelikhede, hernude dialoog en respek vir die soewereiniteit van alle nasies om verdere onbestendigheid te voorkom.
Die Inkatha-Vryheidsparty is ook bekommerd oor die aanvalle. Meer as 700 mense is sedert Saterdag in Teheran dood. Die IVP sê buiten humanitêre gevolge, kan die ekonomiese probleme wat dit vir Suid-Afrika inhou nie geïgnoreer word nie. Die party is bekommerd oor die ontwrigting van handel en brandstofvoorsiening weens die versperring van die Straat van Hormuz. Dis ’n belangrike roete waarlangs olie en gas na die res van die wêreld uitgevoer word.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy het die plasing van graad 1- en 8-leerders wat deur die 2026 aanlyn toelatingstelsel aansoek gedoen het, afgehandel. Altesaam 392-duisend-224 leerders wat deur hierdie stelsel aansoek gedoen het, is vir die huidige akademiese jaar by skole geplaas. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê 8,5-persent van die aansoeke is in die laataansoek-tydperk ingedien:
# Krieket: Die Protea-kaptein, Aiden Markram, sê hulle verwag vandag ’n taai stryd teen Nieu-Seeland in Kolkata in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika is nog onoorwonne en het in die groepsfase ’n oortuigende sege van sewe paaltjies oor die Swartpette behaal. Markram se span het nog nooit ’n T20-wedstryd op Eden Gardens gespeel nie, maar hy is vol vertroue dat hulle by die toestande sal aanpas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-327-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-153-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die vakbondfederasie Saftu het hulde gebring aan die stigtersleier van COPE, Mosiuoa “Terror” Lekota, en sê hy was deel van ‘n geslag wat die enorme las gedra het om apartheid teen ‘n groot persoonlike koste te beveg. Die 77-jarige het vanoggend in ‘n Johannesburgse hospitaal gesterf. Hoofsekretaris Zwelinzima Vavi sê Lekota was sy hele lewe ‘n toegewyde demokraat wat vas geglo het in grondwetlike regering en oop politieke gesprekke:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….