Nuus 12:00
BULLETIN 3 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM vra aanspreelikheid ná die deklassifisering van OPOD se Phala Phala-verslag
# Rio Tinto gee die groenlig vir ‘n groot uitbreiding by sy mynboubedrywighede in Richardsbaai
# En rugby: Rassie Erasmus sê die groep se diepte is hierdie seisoen noodsaaklik in die aanloop tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi
# Die African Transformation Movement verwelkom die deklassifisering van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se verslag oor Phala Phala. OPOD se ondersoek het gefokus op die gedrag van polisiebeamptes wat betrokke was by die nasleep van die inbraak op president Cyril Ramaphosa se wildplaas in Limpopo in 2020 waartydens kontant gesteel is. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, vra vinnige regstappe waar wetsoortredings bevestig is:
# Die internasionale myngroep Rio Tinto het die groenlig gegee vir ‘n belegging van 7,6-miljard-rand in die Zulti-Suid-projek by Richardsbaai-minerale, om te verseker die bedrywighede duur voort tot 2050. Die besturende direkteur van Rio Tinto Iron and Titanium, Werner Duvenhage, sê hierdie belangrike stap verseker duisende werksgeleenthede in KwaZulu-Natal deur mineraal-sand-produksie terwyl die bestaande myne uitgeput raak. Hy voeg by die belegging is ‘n belangrike mylpaal wat RBM se toekoms vir die volgende 25 jaar verseker en sy toewyding aan Suid-Afrika en vertroue in bestendigheid weerspieël.
Nuus uit die buiteland:
# Die Kommunisteparty van Swaziland veroordeel wat hy bestempel as Amerika en Israel se onwettige militêre aggressie teen Iran en sê dis ‘n skending van internasionale reg en die Verenigde Nasies se Handves. Hy verbind die spanning met geskiedkundige Westerse inmenging en waarsku oor voortgesette onbestendigheid in die Midde-Ooste. Woordvoerder Thokozane Kunene sê hulle verwerp die leuens van Westerse media wat poog om die oorlog uit te beeld as ‘n noodsaaklike optrede om te verhoed dat Iran ‘n kernwapen bekom, en eis ‘n onmiddellike en onvoorwaardelike wapenstilstand.
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het intussen reageer op kritiek dat die jongste konflik tot ‘n eindelose oorlog in die Midde-Ooste sal lei. Die gesamentlike aanval het wraakaanvalle in die streek ontlok, insluitend op lande waar Amerikaanse Weermagbasisse is. Netanyahu het aan Fox News gesê Operasie Epic Fury sal eerder ‘n tydperk van vrede en demokrasie in Iran inlui:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is goed geplaas voor ’n veeleisende seisoen waarin die groep se diepte belangrik sal wees. Die wêreldkampioen se seisoen begin op 20 Junie in Gqeberha met ’n wedstryd teen die Barbarians voordat hulle Nasieskampioenskap-veldtog op 4 Julie op Ellispark afskop teen Engeland. Nege-en-veertig spelers woon hierdie week ’n Springbok-belyningskamp in Kaapstad by. Erasmus sê langtermyn-beplanning is belangrik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-918-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-320-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 80-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….