Nuus 12:00
BULLETIN 2 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskepingsondernemings herlei skepe om die Kaap ná die aanvalle op Iran
# Starmer gee Amerika toestemming om Britse Weermagbasisse te gebruik vir verdedigende aanvalle op Iran
# En motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika is taamlik tevrede met sy prestasie in die eerste MotoGP-wedren
# Die verskepingsondernemings Maersk, Hapag-Lloyd en CMA CGM herlei skepe om Afrika, weg van die Suez-kanaal en die Seestraat van Bab el-Mandeb ná Amerikaanse en Israelse aanvalle op Iran en die sluiting van die Seestraat van Hormuz. Die Deense houerverskepingsgroep Maersk sê die onderneming het weens die verslegtende veiligheidsituasie in die Midde-Ooste besluit om toekomstige Trans-Suez-vaarte te staak. Die Duitse verskepingsgroep Hapag-Lloyd sê hul IMX-houerdiens, wat Indië en die Midde-Ooste met die Middellandse See verbind, word ook om Suider-Afrika herlei.
Intussen sê die Britse eerste minister, Keir Starmer, sy land het ’n versoek van Amerika goedgekeur om Britse Weermagbasisse te gebruik vir verdedigende aanvalle teen Iran. Die Lugmagbasisse is Fairford in Gloucestershire en die hoogs omstrede Diego Garcia op die Chagos-eilande. Starmer het herhaal dat Brittanje nie betrokke was in Saterdag se Amerikaans-Israelse lugaanvalle op Iran waarin die land se opperleier, Ali Khamenei, dood is nie:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die landwye massa-inentingsveldtog teen bek-en-klouseer het begin nadat die beseding entstof in die land aangekom en vinnig versprei is. Die eerste groot besending van een-miljoen dosisse entstof van Biogenesis Bagó in Argentinië, het op 21 Februarie in Suid-Afrika aangekom. Steenhuisen sê nóg 1,5-miljoen dosisse van die Turkse vervaardiger Dollvet het gister aangekom, met nóg besendings wat binnekort uit Argentinië verwag word:
# Die mynwerkersvakbond NUM se Vroue-struktuur het ernstige kommer uitgespreek oor die Universiteit van die Vrystaat se navorsing wat sekere sanitêre produkte met skadelike chemikalieë verbind. Woordvoerder Nthabiseng Mashiteng vra dringende verantwoordbaarheid van vervaardigers en strenger regulatoriese toesig om vroue se gesondheid te beskerm. Sy sê talle vroue in die laer inkomstegroepe maak staat op bekostigbare produkte en is in gevaar. Mashiteng vra die regering om veiligheidstandaarde te versterk, deursigtige etikettering af te dwing en deeglike produktoetsing te verseker.
# Motorsport: Suid-Afrika se MotoGP-ster, Brad Binder, is taamlik tevrede met die begin van die seisoen. Die Red Bull KTM-renjaer was Saterdag sesde in die snelwedren van die Thaise Grand Prix en gister sewende in die hoofwedren. Marco Bezzecchi van Aprilia het die wedren gewen, terwyl die wêreldkampioen, Marc Marquez van Ducati, vyf rondes voor die einde weens ’n beskadigde wiel moes onttrek. Binder sê hy kon beter gevaar het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-963-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-403-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….