Nuus 12:00
BULLETIN 26 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag wil ‘n aansoek indien teen die verteenwoordiging van Batohi voor die Nkabinde-ondersoek
# Tax Justice South Africa vra vinnige en sigbare optrede om onwettige handel te bekamp
# En rugby: Die Junior Bokke is versterk met die terugkeer van Reid en Mnebelele vir die wedstryd teen Georgië
# Die Nasionale Vervolgingsgesag wil ‘n dringende aansoek indien om te verklaar hy kan nie die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, in die Nkabinde-ondersoek verteenwoordig nie weens ‘n belangebotsing. Die NVG vra toestemming om onafhanklik deel te neem, insluitend met die voorlegging van bewyse en die kruisondervraging van getuies. Batohi het haar eie regspan op bystand. Die kommissie ondersoek die geskorste Andrew Chauke se geskiktheid vir die amp van Johannesburgse Direkteur van Openbare Vervolgings.
# Tax Justice South Africa sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se erkenning dat onwettige handel die land verwoes, beteken min as sy beloftes van optrede nie vinnig opgevolg word deur inhegtenisnemings, vervolging en herwinde inkomste nie. Woordvoerder Yusuf Abramjee sê onwettige handel verhoed jaarliks dat sowat 100-miljard-rand in die staatskas beland:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, waarsku die provinsie kan moontlik ‘n formele tussenregerings-geskil verklaar of die howe nader indien daar nie aandag gegee word aan personeeltekorte en ondersoeke in die polisie nie. Altesaam 345 mense is net in Januarie in die provinsie vermoor. Winde het in sy provinsiale rede gesê die nasionale regering het die afgelope 30 jaar geen werklike of betekenisvolle beleggings in veiligheid gedoen nie:
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het ‘n sterk groep aangewys vir môre se tweede en laaste wedstryd teen Georgië in Tbilisi. Suid-Afrika het Sondag se eerste wedstryd 35-0 gewen. Die voorry-staatmakers Oliver Reid en Siphosethu Mnebelele is teruggeroep na die opdrafspan, met Zekhethelo Siyaya ingesluit as heelagter in die plek van Dylan Miller, wat op die bank is. Foote sê Reid en Mnebelele se ondervinding gee die span bykomende selfbeheersing en tegniese krag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-86-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-111-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-186-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaans-gebaseerde organisasie sonder winsbejag, die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste, sê 129 joernaliste en mediapersoneel is verlede jaar aan diens dood. Israelse magte het 86 doodgemaak, waarvan meer as 60-persent Palestyne was wat uit Gaza verslag gedoen het. Die syfer sluit ook 31 werkers in wat tydens ‘n aanval op ‘n Houthi-mediasentrum in Jemen dood is. Die organisasie se uitvoerende hoof, Jodie Ginsberg, sê dis kommerwekkend dat joernaliste in rekordgetalle doodgemaak word in ‘n tyd wanneer toegang tot inligting belangriker is as ooit tevore.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….