Nuus 12:00
BULLETIN 25 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party eis volle deursigtigheid oor die terugtrekking van ‘n moordaanklag teen Brown Mokgotsi
# Bek-en-klouseer word bevestig naby Mosselbaa in die Suid-Kaap
# En rugby: Rassie Erasmus sê die wedstryd teen die Barbarians is die ideale voorbereiding vir hul kragmeting met Engeland
# Die MK-party vra die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag om ‘n volledige en deursigtige verduideliking te gee oor die terugtrekking van ‘n moordaanklag teen Brown Mogotsi. Die omstrede sakeman van Noordwes het in sy getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee onthul dat hy ʼn man tydens ʼn bakleiery vermoor het. Mogotsi het getuig dat die gevolglike aanklagte teruggetrek is ondanks sy bekentenis. Die MK-party sê ʼn moordsaak is nie ʼn onbenullige administratiewe kwessie wat eenvoudig sonder gevolge of verduideliking kan verdwyn nie.
# ‘n Deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie is gisteraand naby die suidkampus in Soshanguve, Pretoria, vermoor. Wyksraadslid Kholofelo Mashapa sê verskeie mense het die slagoffer met geweld uit sy huis verwyder en aangeval. Dit word na bewering gekoppel aan beskuldigings rakende die verkragting van twee kinders. Die polisie het ‘n ondersoek geopen en vra die gemeenskap om die wet toe te laat om sy gang te gaan. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê bek-en-klouseer is bevestig op ‘n vers-plaas naby Mosselbaai, 21-kilometer noord van die oorsprong-plaas. ʼn Woordvoerder, Herman Pieters, sê kalwers van die oorspronklike plaas is Saterdag na hierdie eiendom verskuif. Hy sê alle vee op die betrokke plaas, asook ʼn buurplaas, is intussen ingeënt:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, beweer Iran is besig om missiele te ontwikkel wat sy land kan tref. Hy het sy staatsrede voor ‘n gesamentlike sitting van die Kongres gelewer en ‘n nuwe rekord opgestel vir die langste toespraak ooit van byna ‘n uur en 50 minute. Trump het herhaal dat hy ‘n diplomatieke ooreenkoms met Iran verkies, maar gesê Iran mag nooit ‘n kernwapen hê nie:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die kragmeting met die Barbarians in Gqeberha in Junie waarmee hulle hul toetsseisoen afskop, is die ideale geleentheid om spelers wedstryd-gereed te kry. Die wedstryd vind plaas twee weke voor die Bokke se eerste Nasieskampioenskap-kragmeting met Engeland op Ellispark in Johannesburg. Erasmus sê sy span sal fokus op strukture en wat hulle op die veld wil bereik. Hy sê hoe gouer hulle ʼn toets-ingesteldheid ontwikkel, hoe beter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-188-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-191-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….