Nuus 12:00
BULLETIN 20 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Forum for South Africa vra ‘n ondersoek na die buitensporige styging in vleispryse
# Meer as 13-duisend vuurwapens is in Vanderbijlpark vernietig
# En motorsport: Formule Een se president vra kalmte ná kritiek oor nuwe regulasies
# Forum for South Africa vra ‘n ondersoek na die buitensporige styging in vleispryse. Nuwe data van Statistieke Suid-Afrika wys die jaarlikse styging van vleispryse het van Desember tot nou van 12,6-persent tot 13,5-persent gestyg met drie beesvleisprodukte wat die hoogste jaarlikse styging van al 391 produkte in die verbruikersaanwyser-mandjie behaal het. FOSA se voorsitter, Tebogo Mashilompane, sê vleis raak onbekostigbaar vir werkersklas-huishoudings:
# Die polisie het nog nie die vuurwapen gevind waarmee ‘n tuinier geskiet is by die huis van die gewese Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun in Hydepark, Johannesburg, nie. Die polisie het gisteraand die misdaadtoneel afgesper en ʼn multidissiplinêre span bestaande uit forensies, duikers en ʼn honde-eenheid soek steeds na die vuurwapen. Bellarmine Mugabe en nog ʼn ongeïdentifiseerde verdagte is aangekla van poging tot moord. Die polisie sê hulle het beslag gelê op ʼn swart BMW met wit ligte wat aan Mugabe behoort.
# Die Gautengse polisie het meer as 13-duisend-800 vuurwapens en vuurwapen-onderdele in Vanderbijlpark vernietig. Dis die tweede vuurwapen-vernietigingsproses in die huidige boekjaar. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê hulle het die afgelope sewe jaar 305-duisend-934 vuurwapens vernietig:
# Motorsport: Formule Een se president, Stefano Domenicali, sê hy verstaan nie die paniek oor die nuwe regulasies vir hierdie seisoen nie. Die grootste reël-verandering in F1-geskiedenis raak voertuie, enjins en bande, terwyl koolstof-neutrale, volhoubare brandstowwe bekendgestel word. Die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen, beskryf die nuwe motors as Formule E op steroïde. Domenicali sê mense moet kalm bly omdat dit net die begin van ʼn nuwe reis is. Hy sê veranderings sal aangebring word indien nodig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-905-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-12-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse akteur Eric Dane, bekend vir sy rol as dokter Mark Sloan in Grey’s Anatomy, is op 53-jarige ouderom dood. Hy is verlede jaar gediagnoseer met ʼn soort motorneuron-siekte, ALS. Dane het ʼn suksesvolle TV- en rolprentloopbaan gehad wat in die vroeë 1990’s begin het. Hy het ook in gewilde TV-programme soos Saved by the Bell, The Wonder Years, Roseanne en die mediese drama Gideon’s Crossing verskyn. Dane het sy rolprentbuiging in 2000 gemaak in The Basket van Rich Cowan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….