Nuus 12:00
BULLETIN 28 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien kandidatelyste vir al 257 munisipaliteite in by die OVK
# Die Gesondheidsdepartement gee gerusstelling oor die onttrekking van Enalapril tien-milligram-tablette
# En rugby: Thomas du Toit sê die Bokke is vasbeslote om in Kaapstad terug te bons
# Die DA het vandag sy kandidatelyste vir al 257 munisipaliteite en vier-duisend-484 wyke by die Verkiesingskommissie ingedien vir November se plaaslike regerings-verkiesing . Politieke partye het tot vanmiddag vyf-uur tyd om hul lyste in te dien. Ashor Sarupen van die DA sê kandidate het ‘n streng keuringsproses ondergaan om te verseker geskikte en toegewyde openbare verteenwoordigers word aangewys wat kiesers se vertroue verdien:
# Die stadsraad van die Stad Tshwane het besluit om nie tugstappe te doen teen die stadsbestuurder, Johann Mettler, nie nadat bewerings van wangedrag ondersoek is. Hy is beskuldig van wanadministrasie, en dat hy nie die nodige verpligte beheermaatreëls nagekom het ten opsigte van sommige amptenare wat by die Tshwane Metropolisiedepartement aangestel is nie. Die metro sê ‘n onafhanklike ondersoek het die aantygings behoorlik getoets, en daar is tekortkominge identifiseer. Die proses is nou afgehandel en die fokus is op die vestiging van bestendigheid in die administrasie.
# Die Gesondheidsdepartement sê die onlangse onttrekking van Enalapril tien-milligram-tablette van Arya Pharma raak nie dieselfde produk wat in vyf-milligram verpak word nie. Laasgenoemde word tans aan openbare gesondheidsgeriewe verskaf vir behandeling teen hoë bloeddruk en hartversaking. Woordvoerder Foster Mohale sê die tablette is slegs as tydelike alternatief goedgekeur terwyl die gekontrakteerde verskaffer, Austell Pharmaceuticals, ná gehaltetoetse ‘n vertraging ondervind met die beskikbaarheid van vyf-milligram-produkte:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty vra die regering om dringend op te tree om ses Suid-Afrikaners wat in Nepal vermis word, op te spoor en te red. Hulle is onder meer as een-duisend-500 buitelanders wat vermis word ná verwoestende kitsvloede naby die grens met Tibet. Byna 500 mense is dood. Die SAKP sê die oorstromings het hoofsaaklik werkersklas- en arm gemeenskappe getref wie se hele voortbestaan weggespoel het. Hy sê daar is min hoop op herstel sonder tasbare maatreëls om te herbou.
# Rugby: Die Springbokstut Thomas du Toit sê hulle is vasbeslote om die foute van verlede week se eerste toets teen die All Blacks reg te stel in môre se tweede kragmeting in Kaapstad. Suid-Afrika het op Ellispark 33-16 verloor en moet môre wen om die reeks te kan beklink. Du Toit, wat die wedstryd op die bank begin, sê elkeen sal sy bes doen om die beste wedstryd moontlik te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-794-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-609-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….