Nuus 12:00
BULLETIN 18 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nege-maande-oue baba en twee vroue is in Athlone doodgeskiet
# Motoriste moet hulle staal vir brandstof-prysstygings in Maart
# En krieket: ‘n Draaibouler van Pakistan glo sy span kan steeds die Super Agt haal
# Kaapstad se polisie het bevestig ‘n nege-maande-oue baba en twee vroue van onderskeidelik 25- en 36-jaar-oud is gisteraand in Athlone doodgeskiet. Twee mans is in die hospitaal. Polisiewoordvoerder André Traut sê die motief vir die aanval is tans onbekend. Beskikbare hulpbronne staan speurders van die Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade by, en werk onverpoos om drie onbekende verdagtes aan te keer wat op die vlug geslaan het. Traut vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiestasie te kontak.
# Suid-Afrikaanse motoriste moet hulle gereed maak vir hoër brandstofpryse in Maart. Volgens die Sentrale Energiefonds se jongste data kan die petrolprys met een-sent per liter styg vir 93 oktaan en twee-sent vir 95 oktaan. Dieselpryse kan egter met tot 47-sent per liter klim. Die fonds skryf die styging toe aan hoër internasionale produkpryse, met Brent-ru-olie wat bo 67-dollar per vat verhandel. Die nuwe pryse word op 4 Maart van krag.
# Die poswerkers-vakbonde DEPACU en SAPWU eis ‘n verduideliking van die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, oor gerugte rondon die Suid-Afrikaanse Poskantoor. Die regering het glo ʼn reddingsboei van 3,8-miljard-rand aan die Poskantoor beloof. DEPACU se hoofsekretaris, Kodisang Bokaba, sê dis dieselfde belofte wat die destydse minister, Mondli Gungubele, voor die Hooggeregshof in Pretoria gemaak het, waarna die hof beveel het die Poskantoor moet in sakeredding geplaas word:
# Tien skiërs word vermis en ses is gestrand in ‘n sneeustorting wat ‘n helling naby die Tahoe-meer in Kalifornië getref het. Die groep van vier gidse en 12 kliënte was gister op die laaste dag van ‘n driedaagse ski-uitstappie toe die sneeustorting voorgekom het. Kaptein Russell Greene van Nevada se sheriff-kantoor sê die ses oorlewendes is aangesê om so goed moontlik skuiling te soek in die gevaarlike toestande:
# Krieket: Die Pakistanse draaibouler Usman Tariq glo hulle kan steeds kwalifiseer vir die Super Agts van die T20- Wêreldbekertoernooi. Hulle het Sondag met 61 lopies teen hul buurland, Indië verloor na oorwinnings oor Nederland en Amerika. Pakistan moet Namibië vandag in Colombo klop. Indië is tans eerste in Groep A en het reeds gekwalifiseer, met Amerika tweede danksy ‘n beter lopietempo as Pakistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-925-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….