Nuus 12:00
BULLETIN 17 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering oorweeg ‘n versoek vir die verlenging van die ad hoc-komitee se ondersoek
# Die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika begin met sy werk
# En rugby: Drie Suid-Afrikaanse vroue-skeidsregters is ingesluit by twee Sesnasies-kompetisies vir vroue
# Die Nasionale Vergadering sal vandag ‘n derde versoek van die ad hoc-komitee oorweeg vir die verlenging van sy ondersoek na politieke inmenging in die strafregstelsel. Die huidige sperdatum is Vrydag. Die komitee versoek ‘n verlenging tot 31 Maart. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê ‘n ad hoc-komitee ontbind as hy nie sy taak teen die voorgeskrewe datum voltooi het nie, maar die speaker kan dit her-aktiveer:
# Die Suid-Afrikaanse miljardêr, Patrice Motsepe, het uitgetree as uitvoerende voorsitter van African Rainbow Minerals, in ooreenstemming met nuwe JSE-reëls. Die leierskapverskuiwing volg ná regulatoriese hervorming wat skeiding tussen raadoorsig en uitvoerende bestuur vereis. Motsepe sal aanbly as nie-uitvoerende raadsvoorsitter van die mynmaatskappy van 43-miljard-rand. Hy sê dis om die noteringsvereistes na te kom en voeg by hy sien uit daarna om in sy nuwe hoedanigheid by te dra tot die globale mededingendheid van die maatskappy.
# Brent Bozell het amptelik begin met sy pligte as nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika. Hy is in die Amerikaanse ambassade in Pretoria gevestig waar hy betrokke sal wees by diplomatieke, politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die twee lande. Die ambassade sê Bozell se aanstelling kom te midde van voortgesette samewerking op die gebied van handel, veiligheid en streeksbestendigheid. Hy sal na verwagting ook in gesprek tree met regeringsleiers en rolspelers in die sakewêreld en burgerlike samelewing om bilaterale betrekkinge te versterk.
Die voormalige Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, het intussen gesê die Donald Trump-administrasie se hantering van Oekraïne is skandelik, asook die versuim om Westerse bondgenootskappe te handhaaf. Trump het onlangs die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, daarvan beskuldig dat hy pogings vertraag om die oorlog met Rusland te beëindig. Clinton sê Trump en die Russiese president, Vladimir Putin, probeer voordeel te trek uit die ellende en dood van die Oekraïense volk:
# Rugby: Drie Suid-Afrikaners is onder die wedstryd-beamptes wat Wêreldrugby aangekondig het vir vanjaar se vroue-Sesnasies-, die Stille Oseaan-vier en die eerste Onder-21 vroue-Sesnasiesreeks. Aimee Barrett-Theron en Zoë Naudé sal skeidsregters wees in die Sesnasiesreeks en Giana Viljoen sal in die Onder 21-reeks optree. Barrett-Theron sal slegs die tweede vrou wees wat in 50 toetse as skeidsregter optree wanneer sy beheer neem in die eerste Sesnasies-wedstryd tussen Frankryk en Italië. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê die drie word beloon vir hul harde werk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-282-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-926-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….