Nuus 12:00
BULLETIN 13 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Professor Parsons sê Cyril Ramaphosa se staatsrede beklemtoon werksgeleenthede en beleggersvertroue
# Hoë waterverbruik plaas steeds hewige druk op Tshwane se stelsels
# En krieket: Nabi van Afganistan word gestraf vir ‘n voorval tydens die T20-Wêreldbekerwedstryd teen die Proteas
# Professor Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool sê president Cyril Ramaphosa se staatsrede beklemtoon dat Suid-Afrika op ‘n keerpunt is. Belangrike voorkeure sluit in die bekamping van geweldsmisdaad, watersekerheid, die ondersteuning van klein, medium en mikro-ondernemings, die hervorming van Eskom en om openbare-privaat vennootskappe te versterk. Parsons beklemtoon suksesvolle instelling met realistiese tydlyne is noodsaaklik om beleide in tasbare verbeterings te omskep:
AfriForum sê Ramaphosa het boere en vleisverbruikers in die steek gelaat deur steeds aan te dring op ‘n gesentraliseerde verkryging van bek-en-klouseer-entstowwe. Hy het gesê die regering gaan die nasionale kudde van minstens 14-miljoen beeste inent terwyl die staat die verkryging van die entstowwe sentraal sal hanteer. Jacques Broodryk van AfriForum sê die regering is blindelings op ‘n pad na vernietiging:
# Die Stad Tshwane sê watervlakke daal steeds in verskeie opgaardamme. Sommige herstel stadig en wys tekens van bestendiging. Die woordvoerder van die metro, Selby Bokaba, sê die stelsels wat steeds probleme ervaar, sluit die Mabopane Hoof- en Kruisfontein-opgaardamme in en vlakke is kritiek laag:
Nuus uit die buiteland:
# Die hoofregsbeampte van Goldman Sachs, Kathy Ruemmler, het bedank nadat die Amerikaanse Departement van Justisie die jongste Jeffrey Epstein-lêers vrygestel het. Sy hou vol haar verhouding met die oorlede veroordeelde seksoortreder was bloot professioneel, maar verwys na hom as “Oom Jeffrey” in e-posse en ander korrespondensie. Ruemmler het ook verskeie duur geskenke van Epstein ontvang nadat hy in 2008 skuldig bevind is aan seksmisdade. Die voormalige Withuis-regsverteenwoordiger van oudpresident Barack Obama sê sy het bedank omdat sy verplig is om Goldman Sachs se belange voorop te stel.
# Krieket: Afganistan se veelsydige speler, Mohammad Nabi, is gestraf vir verontagsaming van die skeidsregters se opdrag tydens Woensdag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Suid-Afrika in Ahmedabad, Indië. Hy het gekla dat die snelbouler Lungi Ngidi se armband sy aandag aftrek en dat hy nie die bal behoorlik kan sien nie. Nabi is met 15-persent van sy wedstrydfooi beboet en ‘n strafpunt gegee vir sy uitgerekte stryery, hoewel Ngidi aangesê is om sy armband van sy boularm af te haal. Die Proteas het die wedstryd in die tweede super-boulbeurt gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-380-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-982-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….