Nuus 12:00
BULLETIN 12 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse regter-president word op spesiale verlof geplaas hangende die Regterlike Dienskommissie se besluit
# John Steenhuisen verwerp berigte dat hy uit die DA se leierskapstryd geskop is
# En sokker: Kaartjies vir die Soweto-derbie is in rekordtyd uitverkoop
# Die kantoor van die Hoofregter het bevestig dat die Oos-Kaapse regter-president, Selby Mbenenge, op spesiale verlof geplaas is terwyl die Regterlike Dienskommissie die verslag van die Regterlike Gedragstribunaal oorweeg. Hy is onskuldig bevind aan ‘n klagte van seksuele teistering waarvan die klerk Andiswa Mengo hom beskuldig het, maar skuldig bevind aan wangedrag omdat hy op WhatsApp met haar geflankeer het. Die kommissie sal na verwagting op 5 Maart vergader om die tribunaal se verslag te oorweeg.
# Die uittredende leier van die DA, John Steenhuisen, ontken berigte dat hy uit die leierskapstryd gedwing is. Hy het verlede week aangekondig dat hy nie in April vir ‘n derde termyn gaan staan nie. Die Helen Zille-faksie het hom glo oorreed om te onttrek weens kritiek oor sy hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking as minister van Landbou. Steenhuisen het aan die SABC gesê hy het bereik wat hy wou:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê ‘n hersiene plan word tans afgehandel om bestendigheid te bring in die stryd teen bendegeweld en georganiseerde misdaad in die Wes-Kaap. Polisie-pogings het die afgelope maande gelei tot ʼn aansienlike aantal inhegtenisnemings, insluitend 17 bendelede. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mokgotse, sê die plan plaas sterk klem op die ontplooiing van spesialiseenhede saam met die bestaande teenbende-eenheid in gebiede wat die meeste deurloop:
# Sokker: Alle kaartjies is reeds uitverkoop vir die Soweto-derbie tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates op die FNB-stadion in Johannesburg. Dit is in rekordtyd aanlyn en by kleinhandelaars opgeraap, terwyl baie ondersteuners teleurgesteld moes omdraai. Die organiseerders het ondersteuners sonder kaartjies aangeraai om nie op die 28ste by die stadion op te daag nie, aangesien daar streng sekerheidsmaatreëls sal wees. Aanhangers wat kaartjies het, word versoek om vroeg op te daag om die vooraf-vermaak te geniet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-987-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-66-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens waarsku dat romanse-bedrogspul toeneem gedurende die Maand van Liefde, met misdadigers wat al meer gesofistikeerde, tegnologies-gedrewe taktiek gebruik om hul slagoffers te mislei. Woordvoerder Roy Retief sê die maand is tradisioneel ‘n tyd wanneer mense geselskap soek met die hoop om ware liefde te vind. Hy sê terwyl baie op soek is na egte verhoudings, is bedrieërs net so aktief:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….